Kleindogtertjie-dae

Nadat my ma en pa geskei is, het ons vir twee jaar by my ouma en oupa gebly.  In daardie tyd wou hulle my aanneem.  Ek is nie meer kwaad vir my ma dat sy destyds eintlik nie betrokke was by my lewe nie.  Verbeel jouself jy is negentien en geskei.  Geen negentienjarige is eintlik lus om by die huis te sit en kind-grootmaak nie.  Toe ék negentien was het ek my gat af gejol.  Ek kan nie dínk hoe dit moet voel om op daardie ouderdom met die verantwoordelikheid van kind-grootmaak te sit nie.

Maar dit is in hierdie tyd dat ek ‘n baie hegte band gevorm het met my ouma-hulle, en ek dink dit het my ma later begin ry.  My man het al vir my gesê dat my ma se optrede teenoor my hom laat dink aan ‘n jaloerse ouer suster.

Ek was omtrent vier jaar oud toe ek en my ma in ‘n meenthuis ingetrek het, maar ek het steeds die meeste van die tyd by my oupa-hulle deurgebring.

My kleintyd-jare by my ouma-hulle was my gelukkigste.  Ek onthou hoe my ouma jaarliks ‘n dag afgevat het by die werk (hulle het hulle eie besigheid gehad) om my Randse Skou toe te vat.  Ons het menigmale Gold Reef City toe gegaan, sommer in die week, net ek en sy – ek onthou nog die groot suigstokkies en die balonne met die rys in.  Of ons sou sommer ‘n dag deurry na ‘n “mall” toe in Johannesburg en dan die hele dag “shopping” gedoen het.  Baie mense sê nog vandag vir my dat, as hulle my ouma gesien het, dan was ek altyd daar aan haar hand – opgetof met twee “ponies” met linte in en ‘n rokkie met daai kouse met die valletjie wat tot by jou knieë kom.  Sy het daarvan gehou om my op te “dress” – soms tot my frustrasie want party van daai rokke kon mens maar erg  krap so aan die binnekant.

My oupa het twee maal per week plaas toe gery om vars melk te gaan haal.  Net so as die son beginne opkom.  Dan maak hy my wakker, trek my japon en pantoffels aan, en dan is ons in die bakkie.  Dan sit ons partykeer eers by die plaas-tannie en koffie drink en beskuit eet.  My oupa het ook huise gebou en gespekuleer, dan gaan ek soms saam met hom.  Dit was ‘n “treat” vir my om altyd die stukkies plastiek isolasie van die elektriese bedrading op te tel – soveel verskillende kleure.  As ek my oë toemaak, dan kry ek nog die reuk van nuwe matte en vars verf.

Somer-tye het my ouma en oupa Vrydae net halfdag gewerk.  Dan pak my ouma ‘n “cooler-box” en ‘n piekniek mandjie en my oupa haak sy boot.  Dan het ons afgesit rivier toe – ons het altyd eers ná sononder huistoe gekom.

In die winter het my oupa vuur gemaak in die sitkamer se antrasiet-kaggel. Ek onthou Wielie Walie en Brakenjan.  En Die Nuus – dan sal my ouma altyd daar sit met haar glas Whiskey en as die oom met die bles-en-brille opkom wat sy lippe so aflek, wysvinger in die lug (PW Botha), dan het sy altyd geswets:  “Die ou fokken bliksem!”

Ek onthou die reuk van Kamfer en die Garry Player “tissues” aan my oupa se kant van die bed.  Aan my ouma se kant, op die bedkassie, was daar altyd vars rose wat my oupa gepluk het in die tuin.  Ek onthou my ouma se Esté Lauder lipstick – so oranje kleur waarmee ék nooit sal kan wegkom nie, “but she owned it!”  Ek onthou ook hoe my oupa altyd vir my “Sproetjies”gesing het.

Toe moes ek begin kleuterskool toe gaan.  Nou, soos party mense “pub-crawling”doen, het ons “crèche-crawling” gedoen.  Van die een kleuterskool na die volgende een, want ek het iets vreesliks gehuil en my ouma kon dit nie vat nie.  Dan probeer ons maar die volgende kleuterskool.  Op die ou einde het ons ene gekry wat in ons almal se behoeftes voldoen.  Ek het die ander dag daar verby gery.  Dit is nou ‘n bouval.

Die kere wat ek langer tye met my ma spandeer het, soos as my ouma en oupa oorsee was, was nie altyd so rooskleurig nie.  Ek het altyd gevoel dat ek in die pad was.  Ek onthou ‘n keer dat ek, sy en ‘n boyfriend van haar by Buffelspoort was.  Hulle het destyd soms Saterdae-aande danse in ‘n saal gehou.  Toe ek aan die slaap raak toe sluit hulle my alleen in die rondawel toe om te gaan dans.  Toe ek wakker word en besef hulle is weg en dat ek toegesluit is het ek histeries begin raak.  En toe hoor ek ‘n stem:  “Moenie bekommerd wees nie.  Jou ma sal nou-nou kom…” Vir baie jare het ek vas geglo dat dit my beskermengel was wat met my gepraat het.  Noudat ek volwasse is dink ek dalk dat een van die bure my gehoor het en my by die venster kom gerusstel het.  Wys mens hoe skeefgetrek dinge raak as jy grootword.

90% Van my kleindogtertjie-jare was gelukkig en sorgeloos.

Totdat my ma getrou het en my stiefpa my aangeneem het toe ek agt jaar oud was.

Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag…

6705d64ce6641823e9fa84e002ddf5b8.jpg

5 thoughts on “Kleindogtertjie-dae

  1. Ek het lekker gelees, jammer oor die 10% sleg, maar klink my jou grootouers was amazing mense en BAIE lief vir jou!
    …. 😦 hulle het seker gedink as hulle dit op die “boostebedjie” doen dat jy hulle nie sal kan sien as jy wakker word nie… min wetend dat jy kon hoor en geweet het wat gebeur, ai….

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s