Die Stiefpa – Laerskool Jare

My ma het baie “boyfriends” gehad toe sy jonk was.  Sy was ‘n vreeslike “sexy” vrou gewees – die mense praat nóú nog daarvan.  Sy het, onder andere, aan ‘n dokter verloof geraak maar díé het sy “pie” gevat en gewaai toe my ouma met hom praat van die vooruitsigte om ‘n stiefkind – dis nou ek – groot te maak.  Ag wel, ten minste was die man eerlik…

Sy het ook ‘n ou gehad wat Maserati’s versamel het en ‘n woonstel langs die kus gehad het.  Ek kan nie veel van dit onthou nie, behalwe die liggies vanuit sy woonstel se venster.  Ek weet nie of dit die Kaap-see of die Durban-see was nie.  Mens “worry” nie oor sulke goed as jy klein is nie – net solank daar sand en ‘n see is.  Maar ek het altyd soos ‘n “outsider” gevoel wat my ma se vry-tyd befonkfooi het.

Ek onthou ook dat sy ‘n vriend gehad het wat soos ‘n Portugees gelyk het.  Of dalk was hy een?  Freddy was sy naam.  Vreeslike harerige ou met so haakneus.  Ek was baie erg oor hom.  Hy het altyd saam met my geswem en my op sy skouers rondgedra.  Ek het die ander dag op ‘n ou foto  afgekom waar ons om ‘n tafel sit by my ouma se huis vir Kers-ete.  Ek en hy langs mekaar met daai belaglike pap papier-hoedjies wat jy nóú nog in die “Christmas Crackers” kry.  Fok, kon sy nie maar eerder met hóm getrou het nie?

Ná ‘n tjoef-tjaf romanse is sy toe op die ou einde getroud met ‘n baie intelligente maar narsistiese man wat basies fokhol gehad het nie.  Maar daar is mos niks mee fout nie.  Liefde kos mos niks?  Ek was omtrent sewe jaar oud toe hulle getroud was.

Aan die begin, toe hulle pas getroud was, was my stiefpa seker nie te sleg nie.  Hy was net “daar”.  Maar hy was nie Freddy nie.  Kinders kom maklik agter as mense nie regtig van hulle hou nie, en dít is maar die “vibe” wat ek van hom gekry het.  Hy het maar net “pretend” om my ouma-hulle te beïndruk.  Hy is later betrek by die familie-besigheid.  My pa het my afgeteken en my stiefpa het my kort ná hul troue aangeneem.  Die fok weet waarom.  Ek verkies om deur die lewe te gaan sonder ‘n pa as om ‘n doos vir ‘n pa te hê.

Ek kon nooit verstaan het wát die man se probleem was nie.  Ek wou net graag iemand gehad het wat ek “Pa” kon noem en hom trots op my maak, maar níks wat ek ooit in sy oë gedoen het was goed genoeg nie.  Elke etenstyd was ‘n marteling want dan sou hy nou sit en besluit om aan tafel al sy frustrasies op my uit te haal.  Dan sit ek daar met ‘n knop in my keel só groot dat ek nie my kos afgesluk kon kry nie.  Dan lóóp die trane en dan het ek gewoonlik my ma se oë gesoek want sy moes my beskerm het teen sy aanslae.  Maar sy het nie.  Nooit. En hoe meer ek gehuil het, hoe meer befok het hy geraak.  Later was dit een van ons huisreëls – ek mag onder geen omstandighede gehuil het nie.  Dit is ‘n baie onrealisties ding om van ‘n kind te verwag – kinders huil – so eenvoudig soos dit.

Dit was nie lank nie, toe begin mense sy ware kleure sien.  My ouma en oupa het eindelose rusies met hom en my ma gehad oor die manier hoe hy my behandel.  Self een van my ma se vriendinne.  Maar my ma het haarself blind gehou.  Later was dit maar net asof sy af ge”switch” het.  Die tye saam met my ouma-hulle het minder geword.  Nie omdat my stiefpa meer tyd met my wou spandeer nie.  Net omdat hy ons almal wou treiter en omdat hy my met sy yserhand wou regeer.

My suster is ‘n jaar ná hul troue gebore.  Daai is nou my hart se punt. Hoewel ek altyd die gevoel gehad het dat sy, my ma en stiefpa ‘n gesin in die ware sin van die woord was en ek net ‘n bywoner in die huis, het ek haar nooit verkwalik nie.  Ek het ook baie vroeg besef dat die reëls wat vir mý geld nie vir my jonger sussie geld nie.

Toe ek Standerd een toe was, toe trek ons en ek is na ‘n ander Laerskool.  Ek was sielsongelukkig – by die skool én by die huis!  Ek kon  nie konsentreer nie en my skoolwerk het my nog verder in die kak gebring by my stiefpa.  ‘n Onderwyseres van my het agtergekom iets is nie lekker nie en my een pouse na haar klas ontbied om te probeer uitvind wat aangaan maar ek het stilgebly.  Ek het geweet ek sou vir weke nie op my gat kon sit as ek uit die huis uit gepraat het nie!  Want intussen het die pakslae begin.

Dit is kak om al die jare pak by jou ma te kry en ewe skielik gee ‘n vreemdeling wat nie lief is vir jou nie, die paklsae.  My ma sou my altyd met die plat-hand op die boud of bobeen slaan, maar my stiefpa het ‘n ritueel gehad.  Ek moes in die badkamer vir hom gaan wag het.  Soms sou ek tien minute wag, ander kere ‘n uur.  Hoe langer ek in die badkamer vir hom gewag het, hoe meer angstig het ek geraak.  Dan het hy ingekom en begin skree en skree, dan val die houe – met so breë leer belt.  Dit is één ding om geslaan te word deur iemand want lief is vir jou en dissipline wil toepas, maar dit is ‘n ander ding as iemand wat jou háát jou slaan.  Ná die tyd mag ek nie gehuil het nie, anders sou ek wéér pak gekry het en as die stof gaal lê het moes ek vir hom sê:  “Dankie vir die pakslae” en hy sou net afgekyk het na my met daai yskoue oë en sy kop knik.  I shit you not!

Een middag het my ma my die huis gekom, ‘n paar oornag-tasse gepak en vir my en my sussie in die kar geprop.  Ons het die aand by een van haar vriendinne gaan slaap.  Ek onthou hoe lekker en vreedsaam dit was.  Die vriendin en haar man kon nooit kinders gehad het nie.  Ons het aan tafel gesit en eet en die tannie het my kop gestreel.  Dit was ‘n vreedsame ete.  Iets wat ek nie in my eie huis geken het nie.  Later, toe ek en my sussie gaan slaap het, toe hoor ek hoe my ma met hulle in die sitkamer gesels.  Toe begin sy iets vreesliks huil.  Dit was vir my eienaardig want op daardie stadium het ek my ma geken as “gevoelloos”.  Nie gelukkig nie.  Nie ongelukkig nie.  Niks.  Ek het uit die kamer uit gesluip en op die boonste trappie gaan sit om beter te kan hoor.  Al wat ek kon uitmaak was ‘n ander vrou se naam.  Ek het tóé besef dat ek nie die enigste een in ons huis was wat seer gehad het nie.

Ongelukkig het my ma daarná nog jare met my stiefpa deurgedruk.

My ouma en oupa het intussen weggetrek en my ma was ‘n “lost case”.  Ek was op my eie…

Daardie einste juffrou wat my wou help op laerskool, het my so paar jaar terug opgespoor en spesiaal na my kantoor toe gekom om te hoor hoe dit met my gaan.  Haar woorde aan my was:  “Jy moes gepraat het.  Emosionele mishandeling is uiteraard mishandeling.  Ek het geweet jy kry swaar.”

 

38bf7e83790baf940d0fe539f20cca96.jpg

2 thoughts on “Die Stiefpa – Laerskool Jare

  1. So ou Bliksem! Nee, niemand slaan aan my kinders nie… geen stiefma en gees stiefpa nie…. geen boyfriend of geen girlfriend nie. Al praat ek en die kids se pa al vir 2 jr nie, nie eers n sms of n whats app boodskap nie… NIKS. Maar daai is en was nog altyd n reeling tussen ons en sal ook altyd wees. My kinders was wel op ander maniere effens “afgeknou” deur n stiefma toe hul klein was en ek het dit wel aangespreek. Nadat sy haar wie kind gekry het het sy eers besef…. ek dink….
    Jammer vir jou seer.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s