Ouderdom IS relatief…

Dit irriteer my grensloos as mense vir my sê dat jy net so oud is soos wat jy voel.  Hoe voel jy dan as jy in die spieël kyk en die fyn lyntjies en grys haarwortels sien?  Voel jy een-en-twintig?  Huh?

Ek het ‘n vreeslike “issue” daarmee om oud te word.  En daar is níks wat ek daaraan kan doen nie, ek weet.  Dit is ons almal se lot.  Baie mense sê ek dra my ouderdom goed maar in my binneste is ek baie bewoë.  Die Tiener se een vriend (wat nie geweet het ek is haar ma nie) het hoeka Vrydagaand na my verwys en vir sy een vriend gesê (hulle is sestien jaar oud):  “Ek hou van ouer vrouens.  Hoe oud skat jy daai girl wat daar staan?  Ek skat haar so twee-en-twintig”.  Hy hou van ouer vrouens, menende twee-en-twintig-jariges.  Hoe oud ÍS ek dan as hy reken dat ‘n twee-en-twintig-jarige “oud” is?  “Sê vir jou maatjie sy ma moet hom vat vir ‘n oogtoets” was my reaksie.

Toe ek 21 was, toe het ek sommer my gesig met Lux gewas en Johnson & Johnson’s 5.5 gesigroom aangesmeer en daar gat ek.  Sommer so met die grimering gaan slaap ook.  Dan is jou wimpers so gekoek die volgende oggend.  Ek het goedkoop onderlaag gebruik wat nie ‘n naam gehad het nie.  “Lipstick” is net sommer so aangesit –  sonder om in die spieël te kyk.  Vandág betaal ek TEN duurste om te spore van ouderdom so bietjie te vertraag.  Dit is “facial scrubs”, gesigwas-middel, “toner”, slak-snot,  spesiaal geformuleerde roompies vir my vel-tipe, serums, “royal jelly” en spesiale “lip ice”.  Dit is Revlon se onderlaag en Maybeline se mascara wat jou soos ‘n “Drag-Queen” laat lyk – te blerrie pragtig.  En nou moet ek ‘n “lip-liner” gebruik want die plooitjies om my lippe laat die “lipstick” vloei.

Ek het sommer my hare uit ‘n boks gekleur en self die punte gesny.  Colgate se “shampoo” en “conditioner” was heel voldoende.  Vandag moet ek salon toe gaan.  Olaplex, jy sien. Want met al die jare se “peroxide” is my hare so bietjie broos.  En my oë sien nie meer so mooi nie so ek sal happe in my hare sny.  En ek gebruik Elvive se haarprodukte om my hare te “voed”, jy weet.  En ek meng Gentian Violet met my “conditioner” want dit gelerigheid begin my nou pla.  En soms kom dit maar érg pers uit.  Dan lyk ek soos daai Minions wat “radio active” begin raak het.  Ek kán nie wen nie!

Op 21 het ek my geld spandeer aan “matching” onderklere.  Sulke “sexy” kanterige goed.  Dan loop ek en pronk met my “cleavage” en ‘n henna-tattoo op my regter-tiet (ek was te kleinserig om ‘n regte tattoo te kry).  Te mooi.  Dan was ek dit sorgvuldig met die hande (die onderklere, nie die tiet nie) en laat dit droogword op die “drip-dry” rak in my woonstel want ek was tog so heilig op my mooi onnies.  Nou dra ek net ‘n bra.  Die gemaklikste ene in die kas.  Panties dra ek nie meer nie – behalwe as ek ‘n rok dra (wat bitter min is) dan dra ek ‘n “g-string”.  En as ek ‘n denim dra, om waarskynlike redes.  Ek dink ek het dit by my ma opgetel.  Ek het net eenvouding nie meer lus vir goeters wat my druk en ongemaklik laat voel nie en ek het nie tyd om goed met die hand te was nie.

My handsak was so klein enetjie – net groot genoeg vir ‘n vyftig-rand noot (want jy kon ‘n GOEIE aandjie uit gehad het met R50.00 – en dit sluit ‘n Steri Stumpie en ‘n “garage-pie” in!), ‘n tampon of twee, “lipstick”, sigarette en “perfume” (Musk – dit het die mans mál gemaak… vandag ruik dit vir my ene slet!).  Vandag dra ek ‘n kasarm van ‘n ding oor my skouer.  Binne-in ‘n beursie met ou winkel slippies, kopseerpille, brille, Rennies, ses verskillende “lipsticks”, twee bottels parfuum (waarvan een Lady Million moet wees, want ek het nou smaak, jy weet… ek wil nie meer soos ‘n slet ruik nie), karsleutels, kantoor-sleutels, tampons, kluise se sleutels, huissleutels, asma pompies, tissues (party reeds gebruik vir die Laatlam – ons land kort meer asblikke in openbare plekke), ou lekkers van restaurante, kalmeerpille, rekeninge, sinus-spuite, selfoon en data-stokkies.  Ek dra my dood!

Destyds was die enigste medikasie wat jy nodig gehad het die “odd” Panado.  En so “once in a blue moon” die “morning-after pill” – maar dít maak mens siek.  Nóú is dit: Omega 3 pille, “immune boosters”, kalsium en magnesium en anti-depressante.  Ook:  ‘n konkoksie van kookwater, heuning, suurlemoensap, rooipeper, kaneel en borrie vir die artritis, bloedsomloop en hardlywigheid (want die “exhaust” brand nie meer so mooi wit as jy ouer word nie).  Saans is dit twee slaappille – een om aan die slaap te raak, en een om aan die slaap te bly.  En die voorbehoed pil (want jy het met ‘n skok agtergekom dat die “reverse-metode” nie werk nie) maar nie sommer enige voorbehoed-pil nie want jou hormone lê die hele plek vol – jy val sommer daaroor.  Nee, jy moet eers hormoontoetse laat doen.  Jy gaan gereeld vir ‘n pap-smeer en bevoel elke aand jou borste as jy klaar gebad het want nóú bereik jy ‘n ouderdom waar dinge gevaarlik raak.

Jou vingernaels raak bros en jou toonnaels begin ingroei.  Wonde vat langer om gesond te word.  Jy sukkel met nag-sweet.  Jou lyf is seer as jy soggens opstaan en as jy hoes of nies dan moet jy jou bene kruis anders pie jy in jou broek.  As, AS jy besluit om te dans, dan kry jy milt-steek, jy hyg na jou asem en die volgende dag voel dit of jy in ‘n karongeluk was.

Jy vaar nie meer uit teenoor mense wat jou kwaad maak nie want jy is mos nou ‘n volwasse “dame”, nee… Jy sit en prut soos ‘n stoompot en dan skiet jou bloeddruk die hoogte in.  Jou tande raak afgeplat sodat jy kopsere kry en net met jou voorste tande kan eet van die gekners met elke nuwe rekening wat aankom.  En dan kry jy ‘n karbonkel in jou oor – wat baie fokken seer is – want “jou gestel is af”.

Ál wat beter geraak het, is die “hangovers”, want toe ek een-en-twintig jaar oud was kon ek nie my roes afgeslaap het nie.  Ek het vir twee ure uitgepass en daarná kon ek om die een of ander rede net nie weer aan die slaap geraak het nie.  Dan sit ek daar met ‘n kopseer en “brakkie” (Brandewyn-kakkie) en “suffer” vir ure.  Vandág sukkel ek met slaaploosheid en moet slaappille drink.  So ek slaap die babbelaas om en dan voel ek die volgende dag heel goed.

Ag nee, dis kak om oud te word…  Maar eendag sal ek praat oor die voordele van oud-word.  Vandag voel ek dit net nie.

4d8a65f71fe2d7eb458e7f06d269a373

95e9cbab4cceb2c3d274a8c5591a1445

db69f3acac2d494b123d23c799810504

5 thoughts on “Ouderdom IS relatief…

  1. Ek was lelik toe ek ek 18 was en ek is nou eenvoudig skrikwekkend, so die fisiese newe-effekte van ouderdom skeel my nie juis nie. Die van Helsdingen poppie op wie ek verlief geraak het toe ek 17 jaar oud was, en steeds verlief op is, is ‘n ander storie…

    Ek het gekyk hoe die bekommernis lyne op haar voorkop dieper word oor die jare, die lagkuiltjies in haar wange vlakker. Ek het gekyk hoe die hare op haar slape stadig van blond na grys verkleur en hoe haar grysblou oë wat skitter soos diamante kan verdof van pyn oor die kopbeentjie wat ons nie kon hê nie. Ek moes magteloos toekyk hoe my gunsteling dele van haar lyf stadig afsak grond toe saam met die sakke onder haar oë

    Baie van hierdie goed het ek veroorsaak, met sommige het moeder natuur lustig meegewerk…maar as ek vandag kon oor kies, kies ek haar presies soos sy nou lyk. I guess wat ek probeer sê is hierdie oudword besigheid is nie vir sissies nie, en elke man (en vrou) moet daarmee deel soos hy/sy goeddink. Maar iewers is daar iemand of iemande wat jou like nes jy nou is, battle scars en al. Ek sou wou sê moenie te hard op jouself wees nie, maar dit is dieselfde strontstorie as “ouderdom is net ‘n nommer”. Have at it, dis jou lewe afterall.

    Like

  2. Ek lag lekker. Ek ervaar van dieselfde goed maar ek hou van ouer wees. Eks gemaklik in myself en ek kan nog jonk genoeg wees as ek wil / moet. Ek zipline saam my tieners en pas goed in by my 8 jaar jonger liefde en al sy vriende…. ek het mos die ervaring 🙂

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s