“Daar buite…”

Ya-ag…  Ek was maar stil die afgelope paar weke.  Verlede week was ons by die see.  Maar die eintlike rede waarom ek vóór dit so skaars was, was omdat ek so bietjie tot stilstand geruk was en aan al  my sondes moes dink.

Die Tiener het ‘n taak gehad wat sy die skoolvakansie moes doen.  Dit het gehandel oor sosiale probleme in die gemeenskap.  Onder andere moes hulle vir ‘n dag of wat by ‘n instelling gaan werk het soos die SAP, weeshuise of die SPCA.  Die Tiener besluit toe op ‘n toevlugsoord in een van ons buurdorpe.  Soos dit in haar aard is, het sy my eers twee dae vóór die tyd met al die besonderhede gebombardeer en moes ek en sy (of altans ÉK) spring om ten minste ‘n geldjie in te samel by ‘n paar besighede sodat ons darem ‘n skenking kon maak.

Die vorige middag het ek gou op die plek se webtuiste gaan rondsnuffel om te gaan kyk presies waarvoor my kind haarself inlaat.  Die ou dingetjie lewe mos in ‘n “bubble”. Sy weet nie van die ellende “daar buite”nie.  Goeiste en ek kry ‘n knop in my keel toe ek die gesiggies op die skerm sien.  Ek besluit toe om ten minste ‘n uur saam met die Tiener daar te spandeer want jong, ek weet nie so mooi nie.  Die emosies kan dalk hóóg loop…

Oppad soontoe stop ons gou by ‘n winkel om koekies en swieties vir die kinders en oumense te koop.  Mens kan mos nie met leë hande daar aankom nie?  Nou moet julle weet, ek wag vir my belasting geld om inbetaal te word en dan moet ek nog knyp sodat ons ‘n weelderige vakansie by die see kan geniet.  Nou “budget”ek vir soetgoed en my bek hang oop.  Ek kan nie onthou wánneer laas ek stilgestaan het en gewik-en-weeg het of ek ‘n pakkie “Eat-Some-More” koekies kan bekostig of nie.  Maar ek het my asem opgehou en ‘n mandjie vol koekies en swieties gekoop en daar is ons vort.  Plotte se kant toe.  “Daar buite…”

Daar aangekom, verduidelik die verteenwoordiger ons hoe alles werk.  Elke skenking word versigtig aangeteken en weer uitgeteken.  Die Tiener gee die kontant-skenking en die tannie wat die kwitansies uitmaak se oë skiet vol trane…  “Dankie, hartjie…” Die Staat ondersteun hulle glad nie.  Toe vat ons ‘n toer deur die oord.  Agt-uur die oggend en daar word hard gewerskaf.  Brêkfis is al lánkal bedien en almal is reeds klaar gestort en aangetrek.  Die beddens is reeds opgemaak en alles, hoewel vervalle, is skoon en netjies.  Hier en daar lê ‘n siek ou tannie of ‘n oom met ‘n geamputeerde been bietjie nog laat want die koue byt.

Die inwoners van die gesins-kwartiere is reeds weg om te gaan werk vir ‘n dagloon.  Die jong mans se slaap-saal ruik ene “cologne”.  Oral loop eens aantreklike jong mans met kruiwaens rond, vol tandlose “smiles”.  Die groentetonnel is hul trots, al is dit nog nie selfonderhoudend nie.  Eenkant staan ‘n fondasie vir nog ‘n slaap-saal-in-wording… wag net vir nog fondse.  In die wintersonnetjie sit ‘n paar bejaardes en koffie drink.  Die telleurstelling op hul gesigte duidelik sigbaar as jy nader kom en hulle sien dat dit nie ‘n geliefde is wat besluit het om uiteindelik te kom kuier nie.

Agter is ‘n veld waaruit daar nog hier en daar rook uit lappies swart trek.  Hulle spring maar self in as ‘n veldbrand dreig om die oord in vlamme te verswelg.  In die hoek staan ‘n man en moerse “donkie”stook – blerrie briljante stellasie wat hulle self aanmekaar gesit het – “Ons het met een drom begin, toe raak ons groter en toe skenk iemand vir ons nóg twee dromme”, verduidelik die ou trots.  “As ek vanmiddag vyfuur hier klaarmaak, dan het die kinders en vrouens vanaand warm water én ons mans kan nog môre-oggend lekker stort…”

Kombuis toe… Die Tiener raak bleek want sy is nie gewoond aan die reuk van gekookte kool nie.  Heimlik kry ek so bietjie lekker want sy besef nie hoe bevoorreg sy is nie.  Die eet-area is mooi skoon en daar is ‘n TV vir dié wat saans 7de Laan of Nuus wil kyk.  In die een hoek, ‘n klein verhogie vir kerkdienste.  Tannies staan om ‘n lendelam tafeltjie en skil aartappels en wortels soos wat ek nog nie gesien het nie.

Oppad na die vleuel waar die kinder-area en kleuterskool is, sien ons vyf outjies tussen die ouderdomme van vier en tien, baie fluks besig om die speelgronde skoon te maak.  Die kinders se slaap-area het my gebreek.  Houtkratte met papier-dun matrassies in ‘n ry.  Netjies opgemaak.  Hier en daar ‘n verslete teddiebeer.  In die sitkamer in die sonnetjie lê ‘n baba-seuntjie van vier maande styf toegedraai in ‘n stootwaentjie en slaap.  Op ‘n bed in die siekeboeg lê ‘n twee-jarige outjie, vrot van die koors met wangetjies wat afdop van die skurfgeit.  “Het jy hom kliniek toe gevat?” vra die verteenwoordiger vir niemand spesifiek nie.  Ek kyk om en ek sien ‘n vrou wat vaagweg bekend lyk.  “Ja, ek het hom gister gevat.  Verkoue.” Wíé is die vrou…?

In die speelkamer sit seker ‘n stuk of sewentien kinders om tafels en teken.  Ene erken ek van die webtuiste.  Sy is al omtrent vier jaar daar.  Nog ‘n krulkop-dogtertjie probeer praat maar sy sukkel.  Sy het soveel trauma deurgemaak dat haar spraak aangetas is.  Ek gaan hurk by die mooiste tweeling-boeties (drie jaar oud) maar hulle bedek hul gesigte en wil nie met my praat nie.  Nóg ‘n meisie van twaalf met die mooiste groen oë trek my aandag.  “Jy is pragtig, kinta” sê ek.  “Dankie, tannie”… sonder emosie.

Ek wonder steeds wie die vrou is wat in die siekeboeg by die kind was.

Ons gaan kyk toe na die klaskamertjie waar ‘n gekwalifiseerde onderwyser kleuterskool-klas gee en die groter kinders met huiswerk help.  Baie netjies, maar klein.  Selfs in die skoolvakansie word die skoolkinders verplig om ‘n uur per dag Wiskunde te doen.  “Wiskunde is baie belangrik… dis al wat ek hulle kan bied.  Die geskenk van Wiskunde.  Want ek bly self hier.  En LO.  Ek gee vir hulle almal liggaams oefeninge.”  Mooi mansmens.   Maar die kaarte wat die lewe jou deel, kyk nie na jou uiterlike nie.

Ek besef toe dit raak laat.  Ek moet nou die Tiener agter laat en werk toe gaan.  In die kar steek ek ‘n sigaret op en ry betraand terug na die samelewing. Weg van “daar buite”.

Daai kinders…  Daai vrou in die siekeboeg…

By die kantoor toe tref dit my soos ‘n bom.  Ek harloop argiewe toe en begin grou.  Pluk ‘n leêr uit en soek die huurders se identitietsdokumente.  Dis sý!  Mev. Engelbrecht.  Haar man het haar en haar kinders in sak en as gelos en weggeloop met die bediende.  Ek moes die verhuurder van hul huis se instruksies volg en haar uit die huurhuis sit want haar huurgeld het agter geraak.

Nee o bliksem!  Ek het nie woorde nie…

Orphan.jpg

 

9 thoughts on ““Daar buite…”

  1. Die Korrelkop is vreeslik handig met simpatie op ‘n afstand vir mense wat aan die verkeerde kant van die lewe uitgespoeg raak. Dieselfde ou ontwikkel egter ‘n emosionele kortsluiting wanneer hy letterlik van aangesig tot aangesig daarmee konfronteer word. Die maak nie saak hoe hoog, dik, of sterk die skanse gebou word nie: Net een kontak en hulle lê almal flenters. Fokkit.

    Like

      1. Dit gebeur heeltemal te veel dat slegte dinge met goeie mense gebeur as gevolg van inmenging deur slegte mense. Sulke onregverdigheid maak my onkantig.

        Like

  2. Sjoe dis baie sad. Laat mens weer besef wat mens het en dat jy dit moet waardeer. Foitog arme mense. Het die tiener die dag daar oorleef?
    Dit klink na n groot plek, van klein na groot.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s