Regtig… REGTIG?!

Soos ek al genoem het, was ons die laaste week van die skoolvakansie in Ballito.  Ek, die mister, die Tiener en haar “boyfriend” en die pensioen-opfokkertjie (die Laatlam).  Ek maak die aand voor die tyd hoenderboudjies en frikkadelle – want padkos is deel van die “experiece”.  Die volgende oggend, voordat ons in die pad val, maak ek eierbroodjies (want ‘n óú eierbroodjie is niks lekker nie en ruik soos poep).  Lekker man, LEKKER!

Die hele rit het so goed verloop.  Die Laatlam het mooi stil gesit agter in die kar en niemand het ‘n ontydige skeiterasie of kotsery langs die pad oorgekom nie. Daar aangekom, toe gaan maak ons eers keel nat by Mosambik-Restaurant voordat ons in ons pragtige woonstel ingeboek het.

Ons het heerlike weer gehad en was omtrent elke dag op die strand.  Ek dink maar net dat ek in die toekoms die “tidal pool” sal vermy want daar is te veel glasstukke.  Ek het maar met ‘n sakkie geloop en glasstukke optel – êrens moes ek tog ‘n goeie daad doen (wat my baie langer as 67 minute gevat het, so terloops).  Maar dis “fine”.  Jy mag maar glas-bottels op die strand los sodat die see dit wegraap, teen die rotse stukkend klits en weer uitspoeg en mense se voete moer-toe gesny word.  Dis doodreg.  Moet ASSEBLIEF net nie rook nie!  Maar daar gelaat…

Regtig, dit was salig.  En toe kry ek ‘n boodskap op Facebook Messenger van ‘n vrou wat ek nie regtig mee vriende is nie.  Ek was op skool maatjies met haar dogter en dit is so vêr as wat die kennis strek.  “Hi, ek sien jy is in Ballito.  Wil jy nie asseblief in “X-straat” ry en ‘n huis soek wat besig is om geverf te word nie – ek weet nie wat is die huis se nommer nie?  Daar sal dalk ‘n wit Polo in die oprit staan.  Gaan kyk of die ou oraait is.”

Dafarq?  Senior gemoeds-bekakking!

“Ken tannie die man?”  vra ek.  “Nie baie goed nie.  Ons is vriende op Facebook.  Ek is vreeslik bekommerd oor hom want hy is depressief en hy antwoord nie die boodskappe wat ek vir hom stuur nie.”

Vererg ek toe mos myselwers.  Ek spandeer nie ‘n kakhuis vol geld op vakansies net om die strate op en af te ry en mense van selfdood te red nie.  Bel die polisie, man!

Moenie my verkeerd verstaan nie.  Ek dink meer aan selfdood as die gemiddelde mens en ek het meer “issues” as die Huisgenoot.  Maar my kak is my kak.  Mýne.  Ek suip my pille en gaan sien gereeld ‘n sielkundige.  Verder maak ek nie mý probleme ánder mense s’n nie.

Verbeel jou ek het toe nou maar gedoen wat sy gevra het?

Ry die (baie fokken láng) straat op en af.  Eeny-meeny-miny mo…  Vier huise wat besig is om geverf te word.  Voor die een staan ‘n wit Polo.  Klop aan die deur.  Vreemde oom maak oop.  “Hello oom.  Tannie Sannie het gevra net om te kom seker maak dat jy nie jou polse afgesny het nie.  By the way, my naam is Maatjiema.  Ok, ek sien jy is fine.  Toodles..!”

Ek meen, dônner!  Sommige mense se takt gaan vir ‘n bol kak, hoor!

e2370347f9c1f8fdd7cd7cb19336ee38.jpg

 

3 thoughts on “Regtig… REGTIG?!

  1. Nee regtig? Ek hoop jy’t ‘n ietsie gaan drink vir die skok want ek voel ek kort nou iets. My brein wil nie glo wat my oogies lees nie. haahhahaha!!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s