Marshmallow…

Ek voer ‘n oneindige oorlog met my liggaam en wat ek in my mond druk.  Ek is nie seker waar dit vlam gevat het nie, maar ek dink dit was toe my ma my skelm met ‘n video-kamera afgeneem het toe ek sestien jaar oud was en dit toe vir my (en almal wat bereid was om daarna te kyk) teruggespeel het om vir my te wys hoe vet ek was.  Dalk ook omdat etenstye nie kuier-tye was nie, maar baklei-tye.

Toe ek skool klaargemaak het, het ek begin leef op Thinz, koffie en sigarette.  Vir baie jare het ek omtrent vier tot agt pille per dag gedrink.  Soms net om deur die nag te kuier.  Om en by 2008 het hulle dieëtmiddels met ephedrine van die rake onttrek en mag jy dit slegs per doktersvooskrif gekoop het.  My dokter wou dit nie vir my voorskryf nie, plus, dit het onbekostigbaar geword.  Maar ek was OK.  Die onttrekkingsimptome was vreeslik, maar ek het dit gemaak en nie veel gewig opgetel nie.

Ná die Laatlam se geboorte (ek het dertig kilogram  met die swangerskap opgetel) in 2012 het ek vreeslik gesukkel met my gewig en drastiese stappe gevolg om gewig te verloor.  Ek het begin fiets-trap (tot 10km per dag) en minder geëet en die vetjies het weggesmelt.  Maar, dit was nie vir my genoeg nie.  Ek het manies geraak oor my gewig en dís waar die bulimia my beetgekry het.  Ek kan ure lank met iemand praat wat deur middel van die middel-vinger gewig wil verloor want ek ken elke “trick” in die boek.  Dis ‘n siek spul!

As gevolg van verskeie omstandighede, asook die bulimia (let wel, ek was nie anoreksies nie), is ek vroeër hierdie jaar opgeneem en het ek opgehou om my kos op te bring.  Ek kan nie begin om te sê wat alles fisies met jou liggaam gebeur as jy vyf keer per dag opgooi nie.  Jou tande word sleg.  Jou vel raak lelik.  Jou naels breek.  Jou hare val uit.  Jou liggaam is in pyn.  Jy het konstante sooibrand. Dit help ook nie jy is maer en jy voel soos die hond se gat nie…

Nodeloos om te sê, het ek sewe sewe kilogram opgetel vandat ek opgehou het en my hart is GLAD nie wit daaroor nie!

Sondag toe gee die Mister vir my ‘n drukkie en hy reken my ek is sy “Marshmallow”.  Wat. De.  Fok??

Ek is niemand se dônnerse marshmallow nie!

Gister toe gaan koop ek my eerste paar “name brand” oefenskoene want ek moet, MOET hierdie gewig (op ‘n heilsame manier) afskud.

dadc1af26c1d42c74d4c5292da282989.jpg

Ek wil so graag ‘n vriendskap smee met hierdie liggaam van my en goed wees vir haar.

Die tiener het haarself betjorts want:  “Waarom kan ék nie ook sulke tekkies kry nie?!”  Maar sy dink nie daaraan dat die Mister vir haar twee maande terug ‘n paar Nikes gekoop het nie.  My kollegas het selfs gesê dat hulle so bly is dat ek bietjie vir myself iets koop want ek dink altyd eers aan die kinders voordat ek aan myself dink.

Vanoggend 05:15 toe val ek in die pad.  Dit was ysig koud maar o, so rustig.  Nie een kar het verby my gery nie en net een hond het vir my geblaf.  Honderde voëls wat ontwaak het terwyl ek gestap,  nee, GEWANDEL het.  Ek is nie ene vir oefen in ‘n groep (soos ‘n gym) nie.  Ek wil ook nie sáám met mense gaan stap nie.  As dit by sulke goed kom is ek beter af op my eie.  Ek soek nie ‘n geselsery nie.  Net my eie gedagtes.

Moerdyk ek is onfiks.  Toe ek by die huis aankom toe pyn my ore van die koue en my rook-longe suis soos rooiworsies in ‘n mikrogolfoond.

Ek moet, móét deurdruk…  sonder pille en sonder die vinger.

4 thoughts on “Marshmallow…

  1. Ek is gereeld aan die baklei met die vet maar voor ek kan keer dan oorvreet ek my weer. Nou doen ek maar Sleek Geek se Reboot en die OMG Burpee Challenge want ek kan nie gaan stap of draf hier waar ons bly nie. Reg eet (gesond eet let wel) en oefen is al wat gaan help. Ek’t ook maar die pille laat gaan. Sterkte en probeer die stap geniet (ek is baie jaloers, alleen stap is vir my so lekker)

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s