Goeie dade in slegte tye…

Onder omstandighede moet ek sê, dit gaan heel goeterig.  Die Kersmis-depressie krap nog, maar ek hou kop bo water. Ek probeer soveel as moontlik in my roetine bly en my werk hou my kop besig.  Behalwe die ander dag toe die internet gelol het en ek nie my werk kon doen nie.  Ek het so effense “meltdown” gehad en my muis stukkend geslaan .  Ek was so effens in die kak want dit is mos sake-beskadiging maar ek het dieselfde dag ‘n nuwe muis gaan koop.  Daai “haal-stadig-asem-en-tel-tot-tien-kak” werk nie vir my nie!

Ek en twee vriendinne het nou die dag ‘n Twinsaver-en-Vodka (of sal ek eerder sê:  ‘n suip-en-sanik) geselligheid gehou en ek het weereens besef dat ek nie die enigste een is wat Kerstyd verfoei nie.

Die ene, ‘n kollega, se skoondogter het haar uit ‘n kakhuis vol geld bedônner, gelieg dat sy terminale kanker het en weggeloop met ‘n ander man.  Ons het haar gewaarsku dat een en een nie lekker by twee uitkom nie.  Ek het al baie padjies geloop met geliefdes en kanker.  Verál pankreas en lewer.  Dié vrou was, volgens háár, VROT van die kanker.  Borste, keel, slikderm, eierstokke, limfkliere, dikderm, pankreas, lewer, longe, niere…  Maar, dan sien ek haar in die dorp en sy lyk asof sy pas van Seychelles afkom.  Toe skielik eendag, POEF!  Toe is sy gesond.  Geen spoor van kanker nie.  Moenie my vir ‘n dwis vat nie!  Toe kom sy met die kak storie dat sy twee besighede besit… en ek doen toe my huiswerk (op ‘n heel onwettige manier) en vind uit sy praat kak!  Nou ja… nou sit sy in kak straat.  Maar ek is nie die tipe wat lekker kry en sê “I told you so…” nie.  Dis net lelik!  Ek het aangebied om een van my eks “boyfriends” te kry wat ‘n privaat speurder is (een van die “dodgy” tipes) om nóg geraamtes in die kas te gaan soek maar toe sit die Mister sy voet neer.  “Niks se ge-ekse nie, hoor!”

Nóg een se seun het homself twee jaar terug vergas.  Daai was ‘n lelike storie.  Sy vrou het hom gelos vóór die insident.  Hy het vir almal briewe agter gelaat maar sy vrou weier om sy ma se brief vir haar te gee.  Die arme vrou loop met ‘n bitterheid rond wat besig is om haar lewendig te verswelg!

Toe maak ons ‘n “date” en eet en drink en tjank ons maar… en troos mekaar…  Moet sê, die een het só gehuil dat die buurman op ‘n stadium oor die muur geloer het om te kyk wat aangaan.

As jy soos die hond se gat voel, dan help dit om ánder te help…

Een van my jare-lange vriendinne se hele familie is binne ‘n kwessie van ‘n paar jaar uitgewis.  Eers haar ma – kanker.  Toe haar pa – beroerte.  Toe haar ouma – hartaanval.  Haar tannie – emfiseem.  Haar stiefpa (vir wie sy liewer was as haar eie pa) is verlede Dinsdag begrawe. Wéér kanker.  Die oggend in die hospitaal toe moan hy nog hy lus ‘n brandewyn en Coke en die aand toe is hy klyte toe.   Sy laaste woorde:  “Ook maar beter ek gaan… ek is nie meer lus vir die kak in hierdie land nie! ”  Ai, hy was so ‘n dierbare oom.  Hy het ons altyd gegroet:  “Bye-bye julle vark-ballas!  Lekker spyker!”

Só vind ek uit dat ‘n ánder vriendin van my se skoonouers vir die eerste keer in baie jare see toe sou gaan.  Hulle het die hele jaar gespaar vir die vakansie want die oom is al op pensioen en dit gaan maar beroerd.  Twee dae vóór die vakansie toe breek hulle kar en die “mechanic” kon nie die kar betyds regmaak vóór hul vakansie nie.  ‘n Paar van ons het toe koppe bymekaar gesit en genoeg geld bymekaar gemaak om vir hulle retoer buskaartjies te koop én ‘n ekstra geldjie te gee.  Ek wou aanvanklik my Golf vir hulle leen, maar my stiefpa (die drol wat hy is) het my geleer daar is drie dinge wat jy nie uitleen nie:  1)  Jou kar, 2) Jou vuurwapen en 3) Jou man/vrou.

Ek het ook ‘n minder bevoorregte skoolseun geborg vir twee rugbytoere volgende jaar en ‘n karwag se asma-medikasie gekoop en vir ‘n ander een “sunscreen”en vitamien pille gegee.  In pleks van geskenke het ek my geld op ander mense spandeer.  Mense wat níks het om mý te bied nie maar vir wie ek ‘n verskil kon maak.

Ons sou Kersdag by my ma spandeer het en hoe nader die tyd gekom het, het ek besef dat my ma, óók soos ek, aan seisoenale depressie ly oor Kersfees.  Toe besluit ek om die swart hond vir ‘n dag of twee onder die mat in te vee en ek het na my ma toe gegaan en aangebied om Kersfees by mý huis te hou.  Ek het vir haar gesê dat ek weet hoe sy voel en dat sy moet ontspan.  Dit het gelyk asof ek ‘n berg van haar skouers afhaal.  Ons was gelukkig nie baie mense nie maar dit was baie lekker.  My ouma sou haar goedkeuring gegee het.  Ek wonder of sy ook Kersfees so geháát het soos ek, maar op die ou einde 101% ingesit het om dit vir ander onvergeetlik te maak?

Nou weet ek, as die depressie begin krap en die trane sit vlak, sal ek ‘n goeie daad vir iemand anders doen.

Soos my ouma sou gemaak het…

af2cd61cef27bfe4161e03a9fa778f82 (1).jpg

7 thoughts on “Goeie dade in slegte tye…

  1. Dit is vir ons almal goeie raad. Hierdie opoffer van jou eie gemak en iets vir ń ander doen. Snaaks dat dit nie van nature kom nie, ons moet die beluit neem. Bly jy het goeie mense in jou lewe saam met wie jy lekker kan uithak en jouself wees.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s