Ken jy van vryheid, my kind?

My liewe Dogter…

Ons het al soveel keer hierdie gesprek gehad en ek wéét jy gaan omdraai en net weer jou oë rol (ja, soos ek jou vertel het toe jy klein was – ek hét oë agter my kop en ek weet wanneer mense vir my jok… ek weet jy glo dit nie meer nie maar dit is rêrig so!).

Ek weet jý dink dat jy eendag met hom gaan trou, dat hy vir jou gaan sorg, dat julle twee kinders (eers ‘n seuntjie, en dan, twee jaar later ‘n dogtertjie) gaan hê en dat julle ‘n huwelik van magical bliss gaan hê – ander as jou ma wat alles agterstevoor gedoen het.  My kind… die lewe werk nie so.  Dit hoef nie so te werk nie!  Dit kan nie meer so werk nie.  Dit is nie regverdig nie.

Jy is sestien en ‘n half jaar oud.  Die wêreld lê bene-oop voor jou.  Daar is gesorg dat jy eendag méér sien en beleef as ‘n jong-getroude vrou met ‘n matrieksertifikaat, vasgekluister in hierdie ongenadige plek.  Ek wens ek kan net ‘n bietjie die muisneste uit jou klap om plek te maak vir die drome en ambisie wat ek jou gun!

Daar was vir my geld gespaar om verder te gaan leer maar daar is gesê dat ek nie kan gaan nie want ek gaan net geld mors.  Dat ek te rebels was.  Eerlikwaar?  Ek dink dit was die waarheid.  Daar is besluit dat ek eerder by die familie besigheid sou gaan werk.  Die geld wat vir my studies sou gaan is toe in aandele belê en ek het ‘n kakhuis vol geld gemaak in ‘n baie kort tydjie.

Een Saterdag toe gaan sien ek ‘n reisagentskap want ek wou UIT.  Ek wou Amerika of Engeland toe gaan en werk gaan soek daar.  Op ‘n plaas.  In ‘n kroeg.  ‘n Hotel.  ‘n Boot.  Enigiets. En ek wou die wêreld sien.  Ek wou nie teen my sin mense met klein kindertjies uit huise gooi omdat hulle nie huurgeld betaal nie.  Ek wou nie meer vir pensionarisse slegte nuus gee dat hulle huur verhoog nie.  Ek wou nie meer sukkel met huurders so vuil dat die vlooie jou byt as jy gaan inspeksie doen nie.  En soos nou – ek hou nie daarvan om elke fokken dag om die gebou te loop en drug-dealers, nigeriërs, pil koppe en boemelaars wat helder oordag lights out op ‘n stuk karton in hulle eie kak lê, te dreig met tazers en pepper-spray omdat die mans wat saam met my werk te pateties is om dit te doen en die SAP en munisipaliteit nie ‘n fok voel nie!  Ek wou weg.   Ek wil nog stééds weg…

Daardie tyd was die internet nog nie vir almal beskore nie, dan het reisagentskappe vir jou oorsee help werk soek.  Ek wou my geld van die aandele slegs gebruik vir ingeval ek daar vasbrand want ek het gewéét die lewe sou hard wees in ‘n vreemde land.  Gelukkig was my Engels van die beste.  Ek was baie lief vir engels.  Seker te danke aan juffrou Odendaal wat een van die min onderwyseresse was wat potensiaal in my gesien het.

Ek het ‘n dag onbetaalde verlof ingesit om my dokumente in orde te kry.  Ek sal daardie dag nooit, ooit vergeet nie.  Die weer was swaar en ek het ‘n UNO gery.  As dit té hard gereën het, en die spark plugs word nat, dan het die kar gevrek.  Dan sit mens in kakstraat en die karre kóm, pappa!  Daardie dag het die UNO my sommer ‘n paar keer in die steek gelaat.  Sopnat is ek van die een instansie na die ander…  SAP om my sertifikate te sertifiseer.  Binnelandse Sake om aansoek te doen vir ‘n paspoort…  Terug reisagentskap toe en what not.  Sopnat en doodmoeg (maar opgewonde) is ek laat daardie middag na my ma se stiefpa toe.  Hulle moes ‘n finale dokument teken om toestemming te gee dat ek tjaila want ek was nog nie 21 nie.  En daar weier hulle.  Ek was telleurgesteld en bitter kwaad vir hulle.  Verál omdat hulle gewéét het van my planne en my onbetaalde verlof toegestaan het.  Ja… jou ouma was ‘n drol!

Ek moes alles maar aanvaar en aangaan met my lewe.  Ek het my aandele verkoop en woonstel opgesit.  Dit was vir my ‘n verskriklike bitter slag toe jou ouma betaal om jou tannie (my sussie) op ‘n Kontiki-toer Europa toe te stuur.   Sy het ook vir ‘n paar jaar gaan studeer.  En nee… jou tannie was BAIE meer onverantwoordelik as wat ék was op háár ouderdom.  Ek wou net die wêreld gesien het soos my ouma – dit is ‘n begeerte wat nie doodgaan nie.  Engeland en Skotland in twee weke was nie genoeg nie.  Kon hulle dit my nie gegun het toe ek nog jonk en kinderloos was nie?

As ek eendag doodgaan en ek het nog nie die geleentheid gehad nie, wil ek net vir ‘n jaar of twee ‘n spook wees sodat ek die wêreld kan sien – dit klink of ek bietjie koekoes is, maar dit is hoe ek voel.

In kort:  Daar is voorsiening gemaak vir hierdie dinge vandat jy gebore is.  Jy kan gaan swot –by ‘n instelling of korrespondensie.  Jy kan oorsee gaan.  Jy kan nou nie in die Hilton Hotel gaan bly nie, maar jy sal nietemin dinge kan sien en beleef wat bitter min mense óóit die geleentheid sal kry om te beleef.  As jy wil, kan jy ook dadelik ná skool gaan werk en woonstel opsit.  Maar één ding moet jy besef:  Die geld wat ek vir jou weggesit het gaan nie gebruik word vir ‘n troue óf om vir ‘n man te sorg nie.  Die geld wat ek gespaar het sal gebruik word om te EXPLORE, te LEEF en om VRY te wees.  Nie om huisie-huisie te speel nie.  Ek wens net jy kan opgewonde raak oor die vooruitsig… Maar nee.  Al wanneer jou oë ophelder, is as jy ‘n Whatsapp van hom af kry…

Jy het reeds ‘n motor wat ons vir jou bêre.  Hoe wil jy eendag kar ry as jou motorfiets al vir vyf maande in die motorhuis staan en ek die kere wat jy wél met hom gery het op een hand kan tel?  Jy het jou leerlinglistensie met ‘n moerse tranedal gedop.  Wat het jy verwag?  Besef jy dat jy die enigste een is in jou vriendekring wat wiele het?  Besef hoe bevrydend dit is as mens daai papier in jou hand het en nie in jou ma se oë hoef te kyk as jy dorp toe wil gaan nie?  Bliksem, my kind!  Maak oop jou oë!  ‘n Motorfiets is die begin van GROOT dinge.

Asseblief, asseblief moenie dat die liefde jou vlerke knip nie.  Ek hoor hoe praat die vrouens rondom my.  Hoe spyt hulle is dat hulle so jonk getrou het.  Dat hulle nie eers bietjie asem geskep het ná skool nie.  As jy nie wil reis nie, is dit ook goed so.  Maar geniet die lewe.  Maak vriende.  Hou partytjies.  Maak soos ek en kry ‘n “Onthaal met Kaas en Wyn” sertifikaat op sestien terwyl die organiseerders dink jy is bó agtien.  Lees ‘n bietjie meer – lees boeke oor vrouens in Indië wat in liefdelose huwelike ingedwing word, menshandel… vrouens wat nog nooit die geleentheid gehad het om vryheid te smaak nie.  Lees oor Hitler, Al Capone en Pablo Escobar.  Vind uit hoe om ekstra geld te maak.  Gaan vir ‘n klas in selfverdediging.  Begin ‘n groentetuin.  Fok!  Vat die hond om te gaan stap of bad bietjie saam met jou sussie.

Waar is jy, my kind?  Wat gaan van jou word as hy nie meer daar is nie?  Hoe weet jy hy beplan nie om ná skool sy vlerke sonder jou te gaan sprei nie?

Nee my kind… kom reg!  Word méns!

Ouma se reisjoernale (in geen spesifieke volgorde)

18 thoughts on “Ken jy van vryheid, my kind?

  1. Nee sy sal nie want ek het nie. Ek het geglo “ons” sal anders wees, dis regte liefde en alles gaan awesome wees. Toe gee ek hom 8 jaar van my lewe. Wat regtig nie so bad was nie want ek was nie reg om die vlaktes in te vaar alleen nie. Ek het in daardie 8 jaar groot geword, toe my gat los tokkelos gehou vir 3 daarna. Vet pret. Manlief gekry en nou sien ons dinge wat my ma nog nie beleef het nie. Ek kry die kans om my droom van skywer wees te leef. My punt is, daar is hoop maar jy gaan dalk moet wag tot sy 30 is.

    Liked by 1 person

      1. My ma wil nou nog my gat skop omdat ek so vol muisneste was maar nou dat ek blog het sy my vergewe 😉 Hopenlik werk als mooi uit vir MM se meisiekind.

        Like

  2. Op daai ouderdom kan niemand jou niks vertel nie, veral nie jou ma nie. Myne is glad nie so in die boyfriend ding nie. Jongste reken: KOS = Ware Liefde 🙂 Ha ha ha die kind!
    Ek moes verseker ook MEER na my ouers geluister het, maar ek kan nie se dat ek (baie) spyt is nie.

    Like

  3. Ekt lanklaas so stukkie waarheid gelees. Asb luister vir jou ma. Ekt gedink om te trou opn jong ouderdom is die lekkerste ding. Eks geskei! Hoekom? As jy jonk is, dink jy anders. Dis belangrik om vlerke te sprei. Jy sal weer iemand kry.
    Sterkte. Dis n harde een.

    Like

  4. met ‘n seun van nou 16…voel ek ook so – die wereld is soveel groter as jare terug. Groter, maar nader ook…. Wil net groter idees en nog groter drome in hulle koppe sit as muisneste… Dankie vir die vertel x

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s