Wanneer ‘n tantrum nie meer ‘n tantrum is nie…

Ek sweer ek word deesdae gestraf vir al die dergelike kak wat ek as kind aangevang het!

Daar was so ‘n jaar terug ‘n video wat die rondte gedoen het van ‘n kind wat só moerig is vir sy ma dat hy blou-moord skree en die kar se stoele begin skop het.  Die kommentaar op die video was dat die ma veronderstel is om die wit rook uit daai kind te slaan.  Nou ja… ek sweer ek sal nooit weer enige ma veroordeel nie…

Dié van julle wat weet, is bewus daarvan dat die Laatlam al van verlede jaar met ‘n tjank-probleempie sit.  Selfs ék wat al deur hordes liefdestelleurstellings, twee egskeidings en tye van baie diep depressie en woede gegaan het, het nog nooit soveel pis-sessies soos daai kind van my beleef nie.  En dit eskaleer…

Dit het begin met ‘n geween as sy nie haar sin gekry het nie… maar deesdae bou die snikke momentum teen die spoed van lig en voordat ek myself kan kry dan sit ek midde-in ‘n histerie.  En dit maak my BÁNG!

Hierdie naweek was Lelik met ‘n hoofletter “L”!

Dit het eintlik al Donderdagaand begin.  Soos gewoonlik het ek en die Laatlam die middag by die huis gekom en alles was skoon met alles op sy plek.  Nog voordat die eerste Checkers sak uitgepak is, het die TV kamer al gelyk asof ‘n orkaan hom getref het.  Kussings op die vloer, teddies, poppe, blokkies, komberse, kryte… alles wat in die Laatlam se kamer hoort was in die TV kamer.  Ek sweer, as sy sterk genoeg was dan het sy seker haar bed en dresser óók soontoe gesleep!  En my moer pomp want ek mis die dae wat ek ná ete ‘n whiskey in ‘n skoon TV kamer kon gaan drink…  Nou is dit meer ‘n geval van ek drink ‘n SKOON whiskey in ‘n deurmekaar TV kamer.

Ek was besig om bunny-chow te maak en so teen 19:00 vra ek die mister om haar te bad want ek kyk die kind so en sy raak net ál moeiliker en kom nie tot ruste nie.  Teen daardie tyd toe lyk ons kamer en die grasperk óók al soos die hond se gat want sy kan nie op een plek sit en speel nie.  Die Mister het haar nog so gepaai:  “Ag kom nou sweetie-pie… moenie lelik wees met my nie.  Kom ons gaan bad.  Toe, ons hoef nie hare te was nie want mamma het gisteraand jou hare gewas.  Pappa  sal vir jou bubble-bath ingooi…” Fokkit!  Dis elke aand ‘n gat-lekkery en gesukkel!

Net daar gooi ek die paplepel neer en bliksem die deksel terug op die pot en daar gat’ ek.  Ek gooi toe badwater in, gryp die Laatlam aan die arm en pluk haar klere af en sit haar in die bad.  Ek gluur toe die Mister aan en sis:  “Is dit só dônners moeilik!?” Maar kyk, teen daardie tyd toe skree die Laatlam blou-moord! En sy sê ons sleg… “Julle is vieslik!” en allerhande uitlatings wat vierjariges nie veronderstel is om te maak nie.  Ek het nog so gevoel hoe begin my nek jeuk (as ek só moerig raak dat my nek begin jeuk dán is die gort gaar!) en toe sê ek vir die Mister dat hy beheer oor die situasie moet neem want “vanaand kak ‘n ding wat laf raak!”  Hy het haar so deur die histerie gebad en aangetrek (en sy het ons nog ‘n paar keer sleg gesê en stoeltjies en goed rond gegooi) en skielik was daar doodse stilte en toe slaap sy.

Sommer net so.  Poef!  My hart was nog besig om woes in my borskas te klop en toe is die Laatlam al in droomland.

Vrydag was atletiekdag.  Die Laatlam se eerste.  Ek was nogal opgewonde om te sien hoe sy vaar omdat ek (en die tiener) altyd laaste gekom het in die 80m.  Fok!  Daar sou altyd een of twee “morbidly obese” kinders sáám met my wegspring maar yip… ek het altyd laaste aangesukkel gekom.  Dit is maar hoe dit is…  Ons is nie atletiek-mense nie…

Wat my ook laat dink dat die Laatlam dalk atleties kan wees, is die een aand wat sy ook iets gedoen het wat my oor die edge gestuur het.  Ek het nog so opgestaan om haar te gryp toe sien ek net hakskene en hare soos wat sy weghardloop.  So kortgat soos wat sy is, só rats is sy ook.  Sy doen ook Playball vandat sy twee jaar oud is.

By die atletiek gekom, toe begin die Laatlam dadelik pisserig raak.  “Ek wil in die blou span wees!” (en soos wat die duiwel dit wou hê is sy in die rooi span)  Ek het toe gemaak soos wat die kindersielkundiges sê en op my knieë gaan sit, haar in die oë gekyk en haar aangemoedig:  “Dit gaan ‘n heerlike dag wees.  Probeer net een keer.  Jy ken al jou spanmaats en jy sal nie vreemd wees nie… en mamma en pappa is net hier langs die veld.  Ons kyk vir jou.  Jy hoef nie te wen nie, geniet dit net…”  Maar sy het my nie eers gehoor nie.  Net gegil:  “Nee!  Julle is vieslik!  Ek wil nie ‘n rooi hemp dra nie!” Die Mister het nét daar omgedraai en wie-weet-waarheen verdwyn.

Oppad na die ander kant van die sportveld toe begin sy al aan my broek se pype hang met my wat haar agterna sleep – sy kan haar gat dank dat sy nie my broek afgetrek het nie want dan het ek haar gewiks!  Teen die tyd dat ons aangesluit het by haar spanmaats toe maak ek al of ek haar nie ken nie want toe skree sy soos ‘n spiritsmeid!  En my nek jeuk.  Ek het weer gebuk, vir haar (kalm) sterkte toegewens, haar ‘n drukkie gegee en teruggeloop na die paviljoen.

Toe dit nou tyd was vir die spanne om, óm die sportveld te loop en gees te vang, toe sien ek die Laatlam is heel ok.  Sy het nie meer gehuil nie, maar sy was nie happy nie en sy het ook nie saam gesing nie.  Toe sy plek moes inneem, was sy nog heel gefokus.  Met die skoot het sy so bietjie laat weggespring maar sy het derde gekom.  Slat my om!  En toe maak die Mister die fout om haar te gaan geluk wens by die wenstreep.  En nét daar begin sy weer histeries raak:  “Julle is mislik!  Mamma het my net daar gelos saam met die ander kinders!” Sy wou nie weer by haar spanmaats gesit het nie en het so geskree dat ek op ‘n stadium gedink sy kry nie asem nie.  En die kýke!  Die een seuntjie het nog vir sy ouma gevra waarom die dogtertjie so huil toe hoor ek net sy sê:  “’n Perdeby het haar seker gesteek…”  En die ander mammas:  “Weet jy, sy lei dalk aan skeidingsangs…” of  “Ek sien joune is anti-sosiaal.”  Dan sug ek net…  “Seker maar…” want ek het nie krag om met jong mammas wat alles weet te redeneer nie!  Regtig, hulle het GEEN IDEE waardeur ons gaan nie!

Met die tweede 80m toe kom sê een van die beamptes dat hulle haar uit die span gehaal het as gevolg van haar tantrum (wat toe al ‘n volle twee ure lank aangehou het).  AG DANKIE TOG!  Ek sê toe vir die Mister dat ons die pad moet vat want ek kon die vernedering nie meer vat nie.  Ook maar beter so want ek kon sweer ek het ‘n aar sien klop teen sy slaap.  By die huis gekom het die Laatlam en die Mister op die bed neergesak en dadelik uitgepass.

Ek het vir my ‘n whiskey gaan gooi en in stilte begin vetkoek maak.  My hart was séér.  Wat doen ons verkeerd?  Wat doen die Mister verkeerd?  Wat doen ék verkeerd?  Ons is nie ouers wat ons kinders dwing om aan aktiwiteite deel te neem waaraan hulle nie wil deelneem nie maar tog moedig ons hulle aan om íéts te doen en pret te hê.  Jy hoef ook nie te wen nie.  Neem net deel.  Rol oor die eindstreep as jy wil.  Is ek te streng en die Mister te toegeeflik?  Het sy een of ander moerse sielkundige afwyking?  Het sy depressie of anger issues soos ek? Wat gaan aan met hierdie kind?

Die res van die aand het ek nie met die Mister gepraat nie.

Saterdagoggend toe staan ek op met ‘n donderwolk wat oor my kop hang.  Daai tipiese gevoel as jy aan depressie ly en jy jou laagste laag bereik het.  Kyk, tóé vang die Laatlam se gedrag my.  Ek het net daar op die bed gesit en vreeslik gesnik.  Die Mister het ingekom om te hoor of ek saam mall toe wou gaan. “Ek gaan nooit weer in die openbaar verskyn met daai kind nie…  Julle tweetjies kan maar gaan.  Ons is kak ouers!  Kyk hoe gaan sy tekere!  Kyk hoe praat sy met ons…  Ek is moerig vir jou.  Ek is so befok met jou want ek blameer jou.  Ek het jou gewaarsku en kyk waarmee sit ons nou.  Die tye wat ek die boompie wou buig het jy my ondermyn.  Kyk nou!  En teen die tyd dat sy klaar is met skool dan gaan ons seker ook skei soos ander paartjies wat niks meer vir mekaar voel nie?  Nê!?” Ek, weet.  Ek was rêrig-êrig baie lelik, maar mens kan ook net só lank ‘n moordkuil van jou hart maak!

Die mister en die Laatlam het my toe alleen gelaat en die pad gevat.  Ek het emosioneel en fisies só flenters gevoel dat ek die hele dag omgeslaap het.  Later die middag het die Mister my kom wakker maak met ‘n houertjie pille.  “Ek het jou hormone by die apteek gaan haal.  Gedink dit is dalk klaar…” Goeie fok!  Dit is nie my hormone nie.  Dit is nie die depressie nie.  Ek dink ek het ‘n blerrie goeie rede om bemoerd te wees.  My huwelik is besig om te knak omdat ‘n snot-kind se tirades besig is om sy tol te eis…

Die res van die dag het ek weer nie met die mister gepraat nie…

Gisteroggend gaan ons Checkers toe.  Die Mister is lus vir kookkos.  Terwyl hy gaan geld trek, gryp ek solank ‘n waentjie en daar gaan ek en die Laatlam.  En waaragtig!  Ek het nog net die Rapport in die waentjie gelaai toe begin sy skree vir klei.  Ek vra haar om die klei neer te sit oor die eenvoudige rede dat sy klei by die huis het en omdat sy nie alles kan kry wat sy wil hê nie.  En sy skree:  “Jy is ‘n mislike ma!” En ek sien hoe die mense vir ons kyk… geskokte gesigte…  ‘n vrou wat haar man in die ribbes pomp.  Die Mister kom toe ingewandel… Net daar gryp ek die klei en sit dit terug op die rak en ek beveel hom om met die Laatlam in die kar te gaan sit.

By die huis gekom toe skree die Laatlam steeds.  Ek het nog iets in my kamer gaan doen en toe kom sy ingestorm met een van haar stoeltjies en gooi my met hom…  “Jy is vieslik!”  Ek het haar uit my kamer gejaag en vir haar gesê dat geen geskree en gehuil in my kamer geduld sal word nie.  “As iemand in hierdie kamer tjank, DAN SAL DIT ÉK WEES!” Hierdie kak van “peaceful strategies for temper-tantrums” is die Mister se “ding” en duidelik werk dit nie!

Ek en die Mister praat steeds nie.

Ek het nie meer woorde nie.  Ek voel stomp.

As dit nie vir die Tiener was nie dan het ek weggeloop…

16 thoughts on “Wanneer ‘n tantrum nie meer ‘n tantrum is nie…

  1. Jy het nie jou moer gestrip en haar naby aan dood geslaan nie. Dis ‘n wen vir iemand wat sukkel met die humeur. Dis ‘n wen, hang hom om jou nek. En van wat ek lees is jy nie ‘n kak ma nie maar jy kort verseker ‘n vakansie ver weg van alles en almal.

    Like

  2. Ag nee, ek weet nie eers wat om vir jou te se nie, want dalk se ek net die verkeerde goed en gee verkeerde raad. Ek sou dit verloor het…
    So ek se maar net: STERKTE – ek hoop dit gaan beter.

    Like

  3. Sjoe nee,dis ‘n tammeletjie!Ek dink julle moet saam gaan vir berading.Dit sal help as iemand net objektief vir julle kan raadgee.Jy het self die probleem identifiseer…die pa is sag en toegeeflik en die ma is die vark in die verhaal.Laatlam speel julle teen mekaar af en weet presies hoe om negatiewe aandag te kry.Serkte…al my simpatie!

    Like

  4. Stem nogals saam met perdebytjie. Behalwe dat berading nie altyd die antwoord is nie. TENSY jy die regte berader kry. En “Mister” kak onnodig af. Dalk hom vra om net bietjie lyding te neem ? Eerste die belt afhaal of paplepel swaai.Ek glo nog in ‘n pak slae op sy tyd. Fok hierdie spul slapgatte wat almal wil tronk toe sleep as kids ‘n raps kry.

    Like

  5. Moet se jy klink regtig verby moeg. En pille help ook nie altyd vir als nie. Hoop regtig jy kry ‘n antwoord en moed. Ek dink dit moet tuff wees om ‘n laatlam te he. Ek weet my suster se laaste twee voel vir haar soos 10 keer meer werk as die eerste 2 wat sy in haar twintigs gehad het. Kan net se sterkte.

    Like

  6. Ek wil net sê die stadium sal ook verby gaan hou moed! Dit help ook nie dat by elke winkel waar jy ingaan speelgoeduitstallings al by die instap slag is nie. Dit maak my op en dit is regtig VERKEEED! Ek kry ook baie daai kyke as ek winkel toe gaan met mu seuntjie en regtig dit maak my kwater as die tantrums. Het mense dan vergeet hoe dit is om kinders te hê

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s