Die rooi monster…

Sy was nog op hoërskool toe sy hoor hoe giggel die outjies by die skool as daar ‘n onderonsie met ‘n onderwyseres was:  “Sy het seker PMS…”  As haar ma so bietjie afferig was het haar stiefpa altyd gegrinnik:  “Los haar… dit is PMS.”

Sy het nooit regtig geweet wat dit is nie.  Net dat dit iets te doen het met vroumense se hormone, seer tieties en swaar gemoedere.   Totdat sy eendag ‘n artikel in die Rooi Rose gelees het oor PMS.   Doerietyd het dit omtrent twee uit elke tien vrouens geaffekteer.  Drink ‘n Disprin en klim in die kooi.  En eet kaas…

Op skool het sy ‘n patroon begin sien.  Gevoelens van magteloosheid, woede, frustrasie en selfdood.  Dan begin die seer borste en teen die tweede dag van bloeding bly net absolute futloosheid en eindelose vuil onderklere oor.  Sy het selfs eendag flou geword in die kunsklas.  Om die cherry op die koek te sit, het haar stiefpa (van alle mense) haar by die skool kom haal.  “Sit ‘n warmwatersak op jou maag…”

Sy het pynlike karbonkels begin kry.  Soms het dit gelyk of ‘n tweede kop uit haar ken groei.  Haar ma het haar dokter toe gevat en toe noem sy dit aan die dokter:  “Dit is nie nét as ek my periods het dat ek sleg voel nie.  Dit begin ‘n paar dae vóór die tyd… ek dink dit is PMS.” Die dokter het net geglimlag en gesê daai ding bestaan net in vrouens se koppe en die voorbehoedpil voorgeskryf.  Diane 35 – “maar onthou, dis nie ‘n regte-egte voorbehoedpil nie…” soos hulle maar destyds vir die tienermeisies gesê het sodat hulle nie rondnaai nie.

Die Diane het gewerk vir die vloei en die seer borste en die puisies, maar haar kop was ‘n teelaarde vir woeste emosies, trane en frustrasie.  Sy het dit maar aanvaar.  Sy is anders as almal.  Sy verwerk dinge nie soos ander mense nie.  Dit is maar die kaart wat die lewe vir haar gedeel het.  Soos haar ouma se bemoerdheid van tyd-tot-tyd.  Duitse gene…  Ja, dit klink beter…  Dit is haar Duitse bloed wat haar so maak.

Ná skool toe vra sy vir ‘n klinieksuster oor die PMS.  Dié deel haar toe ook mee dat dit net die fisiese ongemak is wat kom met menstruasie.  Dat dit niks met uiterse emosie te doen het nie.  Sy het gedink:  “Dalk is ek maar net ‘n Duitse-doos met ‘n rooi monster in my kop.”

Op 21 het sy weer ‘n dokter gaan sien.  Sy kon die fisiese pyn en ongemak wat met menstruasie gepaardgaan tegemoedkom, maar die geskommel van emosies twee tot drie dae vóór die tyd kon sy nie beheer nie.  “Ja, natuurlik bestaan PMS, maar dit kom voor gedurende menstruasie en nie voor menstruasie nie.”  Elkeen het ook sy eie o-fokken-pinie!  Intussen het die gevalle van PMS toegeneem… twee uit elke vyf vrouens ly aan PMS.  Sy is gediagnoseer met kliniese depressie en was sy aan-en-af op handevol pille, maar, dit maak nie saak hóé onder beheer dit is nie, níks kon haar gemoed sus die paar dae voordat Elvis met sy rooi karretjie gekom nie.  Sy kon saam met die op-en-af gevoel leef wat gepaard gaan met depressie, maar die woede wat saam met die rooi monster gekom het was, wel, ‘n monster van ‘n ander kleur.

Ná haar tweede kind het sy besluit om eers hormoon-toetse te laat doen sodat sy die perfekte pil kon kry.  Perfekte Pil was dit in die sin dat sy tydens menstruasie bykans glad nie meer gevloei het nie en dit is omtrent al.  Die vergrype aan kos – sodat sy in ‘n kwessie van vyf dae tot ‘n skandalige vier kilogram opgetel het – wat haar nog méér depressief gemaak het.  Dan, die kopsere, hartkloppings, seer lyf, slaaploosheid – om ‘n paar van die fisiese simptome te noem.  Maar sy kon daarmee saamleef…  Die rooi monster het ‘n paar koppe bygekry.  Sy hartklop het ál sterker geword soos wat sy ouer geword het.

Nog hormoontoetse… alles normaal, behalwe ‘n wanbalans in DHEA.  Sy drink die pille (wat bitter skaars is) getrou, maar sy begin dink dat dit ‘n placebo is want niks is anders nie…

Die ander dag toe begin sy boekhou van haar woede-uitbarstings en sy besef dat sy dit nie meer kan ignoreer nie.  Haar kind sê vir haar dat sy bang is vir haar as sy so kwaad raak:  “Mamma se oë raak swart…”  Haar bloeddruk skiet die hoogte in – 145/122 op ‘n goeie dag.  Haar gesig raak rooi.  Sy sweet.  Sy wil haar klere van haar lyf afskeur sodat die rooi monster kan uitklim wat haar mense so terroriseer.  Want sy is nie so nie.   Dit is nie sy nie.  Kosblikke word rodgegooi.  Deure word toegeklap.  Sy gooi op.  Haar maag spoel.  Sy sluit die badkamerdeur, druk ‘n waslap in haar mond en huil ‘n nat kol op die vloer.   Angs-aanvalle en bevliegings só erg dat sy so uitgeput is ná die tyd dat sy vir sestien ure aaneen slaap.  Kopsere wat haar oogballe uit hul kaste wil druk.  Geen medikasie help nie.  As sy kon, sou sy vir vyf dae per maand net slaap om almal die episode van die rooi monster te spaar.  Noem dit, sy het dit gedoen.  Pille, anti-depressante, pille vir mense wat psigopate is, homeopatiese middels, pille vir angstigheid, uppers, downers, slaappille, hipno-terapie, slaapterapie, beraders, sielkundiges, kerklike beraders, psigiaters… Die rooi monster laat jou van hero to zero gaan in ‘n paar minute…  Van tem-tertjie tot teef-tornado – BOEM!

Dagga…  dagga is nie so dônners fantasties soos wat almal sê nie.  Dagga help nie vir die rooi monster nie.  Die rooi monster word nie getem nie.

Toe praat sy eendag met ‘n vriendin wat nog al die jare onder haar neus is.  Sy sukkel met dieselfde ding.  Wys jou hoe mense nie werklik na mekaar luister nie.  Sy is by ‘n hormoon-spesialis in Vereeniging.  Dalk is sy ook, soos haar vriendin, al lánkal verby PMS.  Dalk is dit PMDD – Premenstrual Dysphoric Disorder.  Soos, die rooi monster wat eintlik ‘n swart draak word.  Haar vriendin het op die ou einde, op die ouderdom van 35 ‘n histerektomie ondergaan en sy sweer hoog en laag dat dit beter gaan, hoewel mens se emosies saam met die hormone ‘n paar maande vat om te stabiliseer.  Het sy hoegenaamd nog tyd?  Want sy raak elke maand maller en maller!

Intussen het sy haar man weer ingevlieg vir niks.  Skree op hom en huil.  So asof alles sý skuld is.  “Ek wil vrek sodat ek by my ouma kan wees!” Sy tjank en roer snot en trane in die sop in.  Hy kom in en dans saggies en stadig met haar ‘n draai deur die kombuis op “Blue Eyes” van Elton John…  “Lief, dink jy nie dit is PMS nie?  Ek begin nou sien watse tye van die maand jy só raak…”

Iemand is só lief vir haar, dat hy dit sommer vanself uitfigure…  Vanoggend het sy gelees:  PMS affekteer drie uit elke vyf vrouens.

Is ons spesie besig om die stryd teen waansin te verloor of is dit net ‘n verskoning vir kak gedrag?

 

c74aef99085871d0373fad6571b8812d

4ebb617a259becf2955b7005501cd8ca.jpgada1ba90086491c53f10534040952fe2.jpg

14 thoughts on “Die rooi monster…

  1. Skies, ek smile nou lekker al besef ek dit is ernstig… jy wat so huil… so wonder ek toe nou, mmmmm…. Laatlam alias Tjankbalie, klink of jy net soos sy kan huil, shit moet my net nie donner nie. Gelukkig sal jy die skerm moet slaan – lol
    Sterkte Dolla, ek dink almal beleef sulke dae, sommiges net meer as ander.

    Like

  2. Ek was die grootste viswyf en het gegil en skreeu soos ‘n besetene.Hou moed,dit gaan verby.Jy het dit uitstekend beskryf.Elke dokter hoort ‘n kopié hiervan te kry,sodat hulle weet waarmee vrouens worstel!

    Liked by 1 person

  3. Dankie dat jy die moed vat en eerlik daaroor skryf. Jy mag hier baie ander vrouens help wat dalk net so voel. Ek dink iemand met ‘n swaar kinderjare se emosies kry jonk al seer en is hierdie ding tog vir hul moeiliker om te verwerk … Sterkte met jou lewe.

    Liked by 1 person

    1. Soos ek hier sit kan ek nie glo dat ek oor twee en ‘n half weke weer in so monster gaan verander nie! Mits die ekstra hormone wat vir my voorgeskryf is, werk. Ek glo nie dit gaan oornag gebeur nie.

      Liked by 1 person

  4. Dis erg dat soveel dokters nie hierdie ding verstaan of wil glo nie. My ma het deur verskriklike pyn gegaan en dit was in ‘n baie konserwatiewer tyd. En sy is ‘n introvert en baie skaam. Dit het ‘n letsel gelaat waaroor sy nou nog onsteld raak. Op 77. Ek is bly jy het hulp gekry. En jy beskryf dit so goed.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s