Stiefpa – Laaste 3 Jaar…

Ode aan my stiefpa…

Ná skool is ek vir ‘n jaar Potch toe gestuur na ‘n – wag vir dit, nee fokken-wag-daarvoor – AFRONDINGSKOOL toe.  Daai was ‘n paar duisend randjies wat in die gutter (saam met ‘n paar van ons meisies) beland het.  My ma en stiefpa het seker gescheme hulle stuur hul rebel weg sodat sy ‘n dame kon terugkeer en die fêmily-empire tot verdere hoogtes kon opbou.

Toe nou fokken nie, hoor!

Nou moet julle ook mooi verstaan, teen daardie tyd was ek net mooi gatvol vir my stiefpa se kak.  Ek het vir my so oulike prim-en-proper boyfriend gekry dat ek tog net soms uit die huis uit kom gaan want ek mag nie eers gepoep het sonder dat my stiefpa ondersoek ingestel het nie.  Hy het dit so onaangenaam gemaak, ek sweer.  Daar was al ‘n aanrandingsaak en ouens wat by my kom kuier het was gedreig met vuurwapens.  O fok nee, al die drama!

In pleks van ontpop in ‘n dame, het ek al die ander meisies leer rook en drink, in manskoshuise en kokkelol-jolle rondgehang  en gelewe op rysslaai, Bully Beef en dooswyn.  Ôg, ôg en Bourbon’s Street se Gummy Berry Juice!  Totdat al die kapperjolle een aand ‘n vieslike nadraai gehad het en ek dieselfde lot oorgekom het as talle ander studente meisies wat nooit-ooit daaroor  sal praat nie.  My drankie was gespike.  Ek was onsedelik aangerand deur ‘n paar studente wat onderwys geswot het.  Al wat ek kon onthou was dat ek in ‘n leë koshuiskamer wakker geword het sonder my denim aan en toe ek vrae begin vra, toe word ek ‘n pakkie morning-after-pill in die hand gestop.  Ek het darem ‘n lift huistoe gekry.

Ek het die hele petalje onder die mat ingevee want my stiefpa sou mý vrek gemaak  het.  En, tot vandag waar ek hier sit voel ek dat dit my skuld was.  Wat het ek in elke geval in ‘n manskoshuis gesoek?

Maar dit is nou verby… Ek praat nie weer daaroor nie.  Die Tiener weet daarvan want sy is vies omdat ek haar nie weg wil stuur om te gaan studeer nie.  Mens dink mos omdat die outjies bevoorreg en gekultiveerd genoeg is om te gaan studeer dat hulle die shit is, maar onheil broei ook tussen die grootste kennis en klas…

Ná Potch is ek terug na my ouerhuis – alles behalwe ‘n dame – en het ek dadelik begin werk by die familie besigheid as ontvangsdame.  Ek kon nie weer aanpas deur saam met my ouers onder een dak te woon nie, en het ná vier maande in een van my ma se woonstel ingetrek.  En moenie dink ek het mahala daar gebly nie, hoor!  Ek het deposito betaal en maandeliks dieselfde huur betaal as my buurman.  Ek het met my eie geld geverf, matte ingesit en meubels gekoop.  Swaar tye, maar die beste ooit!  Weg uit Potch en weg onder dieselfde dak as my stiefpa.  Of so het ek gedink…

Hy (my stiefpa) sou allerhande tye van die nag en vroeg soggens by my woonstel aankom om “inspeksie” te doen – om nou te kyk of ander mans nie oorslaap nie.  Hy het my een Sondag gevang maar toe herinner ek hom dat ek huurgeld betaal en my huurkontrak nêrens stipuleer dat ek nie kuiergaste mag hê nie.  Ek het ál meer en meer haatdraend teenoor hom geraak.

In hierdie tyd het ek aansoek gedoen vir werk oorsee.  My stiefpa het my planne daar ook in die wiele gery…

Toe ek nog op skool was het my stiefpa twee groot drukkers op ‘n veiling gekoop en dit was my Sondag-werk so op die sideline.  Dít en vuurwapen-patrone wat ek gemaak het vir die local skietclub.  Behalwe dat hy sy roes afgeslaap het en die geld wat kliënte ons betaal het in sý sak gesteek het – my betaling was ‘n bord Sondag kookkos.  My ma?  Sy was steeds haar patetiese ou-self.  My pa het destyd baie betrokke geraak by die ANC – ek moes self eenkeer ‘n huis vir ‘n sekere Premier (wat steeds sy hand in die jam-jar het en wie se naam ook al in dieselfde sin as die een of ander Gupta genoem is), gaan wys het. Ons moes eenkeer oor ‘n miljoen pamflette vir hulle druk.  Redelike groot kontrak gewees vir ‘n klein besigheidjie wat net van die huis af bedryf word.  Amper in my mond gekots – om te dink ek staan daar in daai yskoue kantoor tot party oggende vieruur en werk en kry nie een dooie sent nie.  Hy het ALLES in sy sak gesteek.

Die kere wat hy op kantoor was het hy my verskree en verneder – soveel so dat ‘n kliënt wat toevallig destyds vir die arbeidsdepartement gewerk het, hom wou rapporteer.  Die kere wat hy nie op kantoor was nie, het hy saam met sy grillerige maatjies by die hotel gaan kuier.  Met hul duur whiskey en sigare en onderduimse gekonkel – die regerende party is nie van vandag af al korrup nie, hoor.  Mandela draai in sy graf om as hy weet waste skuim in sy bedeling al sous geskep het.  Of dalk nie.  Dalk was hy baie goed bewus daarvan.  Maar kom ons soek nou nie vir kak so vroeg op ‘n Maandag-oggend nie.

Voordat ek die kantoor sou sluit, sou hy my bel om sy aktetas vir hom hotel toe te vat.  Dan sal sy skivvy-besigheidskennisse wolf fluit en ktsssss-ktssss en hy sou gedink het dit was ‘n moerse grap.  “Sit, kom drink ‘n dop saam met ons…”  En as ek nie wou nie:  “Sit en doen wat ek vir jou fokken sê. Jy werk vir MY. Wat drink jy?”  Ek:  “Black Label, asseblief…”.  Hy:  “Ek het jou nie grootgemaak om Black Label te drink nie…  Een glas droë wit, asseblief”

Jy fokken weet..!

Die laaste druppel in die emmer water en die eerste keer dat ek vrees in sy oë gelees het, was toe ek en hy ‘n argument gehad het omdat ek my motorhuis se slot afgesaag het.  Ek het die woonstel se sleutels saam met my motorsleutels per ongeluk in my kar gelos die vorige aand en die motorhuis se slot gesluit.  Ek moes absoluut daardie sleutels kry want my sussie het die aand by my oorgeslaap.  As ek alleen was, sou ek dit nog gewaag het om met ‘n oop deur te slaap, maar my sussie is soos my eie kind.  Hy dreig toe om my te dagvaar vir sakebeskadiging, gee my 24-uur kennis om my woonstel te ontruim en hy fire my.  O, en hy vat my kar se sleutels (wat my oupa vir my gekoop het).  Alles net om my bang te maak, ek weet.  Maar sien, daar kom ‘n tyd wat vyftien jaar se bang nie meer lekker afgaan nie.  Maar fokkit!  Ek het al die dokumente en kak van sy lessenaar afgevee en my gesig in syne gedruk en geskree!  “Jy gaan NOU fokken kak jou fokken DOOS!  Vir wat jy aan my ma gedoen het en wat jy aan my gedoen het!”

Ek het toe dadelik my oupa gebel want as daar nou één mens is vir wie my stiefpa skeit-bang was, was dit my oupa.  Kort-en-kragtig het ek my oupa vertel dat ek gefire is, huisloos, werkloos en karloos is en die foon neergesit.  Drie minute later toe bel my stiefpa ewe stroperig:  “Skat, kom kantoor toe om jou kar se sleutels te kom haal.  Kom ons praat hieroor…dit is ‘n misverstand…”  ek het net die foon dood  gedruk.  Misverstand se sussie se vissie! Teen daai tyd het ek al ‘n wasgoedsak gepak en was ek al vêr oppad van almal af saam met ‘n boyfriend want toe begin ek bang raak.  Iemand wat saam met my gewerk het, het my laat weet dat my ma en stiefpa in ‘n flat-spin was want my ouma en oupa was toe oppad van die see af vir damage-control.  Jy sien,  NIEMAND fok met my oupa se witbroodjie nie maar, dit is ook nie noodwendig goed vir my oupa se gesondheid nie en my ouma was toe pas gediagnoseer met Alzheimer’s… en hier staan en loop die witbroodjie weg!

Vir twee dae kon niemand my kry nie, en toe my ouma my eventueel bel toe stem ek in dat ons almal die aand vir aandete by die Spur (Spur – People With The Thirst For Fists!) kan ontmoet en dinge kan uitsorteer,  “dit is besig om jou ma te vang…”  Die ding is, ons kon nooit oor familie-kwessies met niemand praat nie.  Sommige mense het onraad vermoed maar is vining oor die vingers getik as hulle uitgevra het.  Ek mag eenvoudig met niemand, nie my ouma en oupa en selfs die sielkundige oor my probleme met my stiefpa gepraat het nie – anders sou hy die gebruiklike nat belt ingespan het.

Daardie aand toe ek by die Spur aankom, toe sit almal daar.  Lekker gesellig.  Selfs my oom en tannie, niggies en nefie.  Ek het reguit na my stiefpa toe gestap en my hand uitgehou:  “Kar sleutels?”  Hy het dit ewe nederig vir my gegee.  Ek het een-vir-een na elkeen gekyk:  “Ek gaan nie saam met julle eet nie.  Ek gaan nie weer saam met hierdie fokken vark aan ‘n tafel sit en eet nie.  Hy mishandel ons op allerande maniere waarvan julle nie bewus is nie.  Of dalk is julle maar julle kyk net anderpad.  Hy neuk rond met ander vrouens.  Hy dwing my om arbeid te verrig sonder betaling – vandat ek ‘n snot kind was.  Met my matriek eindeksamens moes ek miljoene verkiesings-pamflette druk, deurnag, terwyl hy sy gat lê en afslaap en ek die volgende dag eksamens moet skryf.  Hy het my as kind geslaan dat die hale gesit het.  Hy hou my woonstel dop om te kyk wie kom kuier.  My ma mag maar aangaan met hierdie fake bull-shit as sy wil, maar ek is klaar…”  Ek het omgedraai en geloop…

Daarná toe het die Spur te bestuurder (‘n ou familie-vriend) my nog oor die vingers getik:  “Jy praat nie weer so met jou pa in mý restaurant nie…”  Ek sê toe vir hom:  “En jy?  Wat van die getroude omies wat jy toelaat om jou waitresses te spyker in jou restaurant se toilette?  Jy’s fokken kômmen, man!”  Daai is my relletjie met die Spur!

My ma het my die volgende dag gekontak en gesê dat ek bietjie “time-out moet vat.  Dat sy my salaris sal aanhou betaal.  Ek moes net verstaan dat my stiefpa haar verbied het om met my verdere kontak te hê.  My ouma en oupa is terug see toe sonder woorde – hulle het haar so half-en-half afgeskryf omdat sy my stiefpa bó my gekies het.  Oor die woonstel was ek nie bekommerd nie want ek het hom ‘n jaar vooruit betaal.  Ek het vir ‘n klein koerantjie gewerk maar sou onmoontlik ‘n lewe vir myself kon maak met daardie salaris.  Ek sal my ma ewig dankbaar wees vir haar bydrae.  My gesondheid het baie agteruit gegaan.  As ek nou terugdink, kan ek pin-point dat my angs en depressie in daardie tyd gemanifisteer het.  Ek wou net slaap en slaap en slaap.  Ek sou negeuur saans gaan slaap en eers die volgende middag drieuur wakker word.  Ek is dokter toe en daar is gevind dat dit Post Traumatiese Stres Versteuring as gevolg van dit wat gebeur het.

So twee maande later het ek my ma vir die eerste keer weer gesien en sy het my gesmeek om terug te gaan werk toe.  Vandag weet ek dat my oupa gedreig het om haar te onterf sou sy dinge met my nie regmaak nie.  My stiefpa het sy bes probeer, maar ek?  Ek was klaar met hom…

Met ons laaste werksfunksie met my stiefpa in die prentjie, toe kom hy met so lekker swart shiner daar aan.  Blykbaar het hul buurman die vorige aand die rook uit hom uit geslaan.  Hy en my ma weer een van hul lelike onderonsies gehad en hy het haar rondgejaag met sy pistool.  Hy het die sneller getrek en die buurman skrams gemis.  Dankie-fokken-tog want hy was ‘n  goeie skut.

Eendag toe het daar ‘n pragtige man homself aangesluit by die politieke spulletjie vriende.  Hy was ‘n vlugteling van êrens (onthou ek praat onder korreksie want my ma wil nie meer praat oor hierdie dinge nie) – ek vermoed Irak.  Dit het al te jolig gegaan en my ma het haarself toe betrokke begin maak by hul kuiertjies. Om ‘n lang storie kort te maak:  Die vlugteling het erg verlief geraak op my ma en homself so bietjie meer as wat nodig was in die vriendekring ingewurm (hoewel ek vas glo dat daar nie ‘n affair was nie), hy is skielik dood en toe besluit my ma om my stiefpa finaal te los.

Ook maar beter so.

Ek dink ek was heeltemal in staat gewees om hom (my stiefpa) van kant te kon maak…  Veertig keer, in die hart…  Fok, ek weet selfs waar die kluis se sleutels was waar hy die pistool gebêre het.

Haai, ek praat nie nou mooi nie!  Ek het hoeka ‘n ou vriend gehad wat vandag lewenslange tronkstraf uitdien omdat hy destyds sy stiefpa vermoor het.  Hy en die tuinjong.

Ander se weë is duister…

13 thoughts on “Stiefpa – Laaste 3 Jaar…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s