Is dit net ek…?

Die Tiener se bevalling en haar baba-tyd het my erg getraumatiseer.

Ek het mos maar die swangerskap en die kind-grootmaak ding op my eie gedoen.  Maar dit is nie juis die punt nie.  Ek sê baie keer vir mense:  “Dit is makliker om ‘n kind alleen groot te maak as om getroud te wees”.  Deur die swangerskap het ek hordes boeke verslind en ek het ‘n normale geboorte en borsvoeding beplan.

My plan her gebackfire!

Ek het ‘n week vóór die bevalling by my ma ingetrek.  Die ginekoloog was “spot-on” met sy datums.  Volgens hom sou die Tiener min of meer op die 27ste Augustus haar verskyning maak.  Laat-middag die 27ste het ek in kraam gegaan.  Ek wil nie veel op die “experience” ingaan nie, maar drie dinge kan ek bevestig:

  • Ek het my ma gebyt só erg was die pyn.
  • Ná ‘n kraampyn sal jy nooit weer bang wees vir ‘n naald nie.
  • Nee, jy vergeet nie die pyn sodra daai bondeltjie eers in jou arms is nie. Ék het nie.

Om ‘n lang storie kort te maak:  My liggaam het in skok gegaan.  Ek wou nie ontsluit nie.  Daar was sulke groen foefies in die vrugwater – ‘n teken dat die baba in moeilikheid is.  En toe daal die Tiener se hartkloppie en hulle vind toe uit dat die naelstring om haar nekkie gedraai het.  Sy is die volgende oggend 2:10 met ‘n noodkeiser gebore.

Die pyn van die wond was onbeskryflik.  Dan het hulle maar vir my Pethidine ingejaag maar ek was so stupid en onbeholpe, Pethidine of de-not.  Níks wat ek gedoen het was reg nie.  Daar het ‘n vrou langs my gelê wat ‘n dag of wat tevore haar tweede kind ook met ‘n keiser gehad het.  Ek was so frustreerd want sy het rondgeloop en geborsvoed en gekoer en gekak en daar lê ek, en die Tiener wil nie “latch”.  Ek onthou haar man en hul ouer seuntjie was omtrent permanent by haar en die baba.  Ek het soveel pyn gehad, dat as ek wou (probeer) borsvoed, dan kon ek nie opstaan om die gordyn tussen ons beddens toe te trek vir ‘n bietjie privaatheid nie.  En op ‘n stadium toe dink ek net:  “Fok hierdie kak!”  En ek pluk daar ‘n vet “juicy” tiet uit – vóór haar man en kind.  Daai vrou het haarself amper betjorts!  Ons wit mense is mos maar baie diskreet met die borsvoed-ding.  Ek ook – maar as jy op pyn medikasie is dan voel jy vere!

By die huis gekom, begin my boobies swel, en swel… Die melk was daar, maar dit wou nie uitkom nie en die Tiener wou nie “latch” nie.  As ek so in ‘n warm stort gestaan het, dán het dit gespuit vir ‘n vale.   Later het my tatas so half vierkantig begin lyk.  Ek het gatvol begin raak vir vrouens wat kom kuier en dan aan my borste kom pluk en trek sodat ek net moes borsvoed – soos dit ‘n goeie ma betaam.  Jy is mos slang-kak se skaduwee as jy nie borsvoed nie.  My tepels het later gelyk soos moerbeie.  Ek was verby moedeloos.  Eendag het my ma net besluit genoeg is genoeg en pille gaan kry om die melk op te droog en ‘n blik Lactogen gaan koop.  Ai “shame” die Tiener was honger-verby teen die tyd wat sy uiteindelik kon drink.

Twee weke ná die bevalling is ek en die Tiener weer terug na my woonstel toe.  Behalwe dat ek baklei het teen nageboorte-depressie (onthou, daar is ‘n GROOT verskil tussen “baby-blues” en nageboorte depressie) kón ek net nie regkom met die Tiener nie.  Sy het geskree van die môre tot die aand.  Sy het gesukkel met krampe en winde.  Haar dag en nag was omgeruil.  Álles was net nie hoe ek dit beplan het nie.  Ek was voos.  Soms het ek haar sommer in die middernagtelike ure in my kar gelaai en om-en-om-en-om die dorp gery want dit het haar rustig gemaak.  Maar wat doen jy as daar niemand is om te help nie?  Jy gaan maar aan.  Later voel dit asof jy op “auto pilot” is, afgesien van al die chaos om jou.  Maar in jou binneste wil jy eintlik daai babatjie voor iemand se voordeur gaan los – net vir ‘n paar dae…

Dinge het beter geraak toe ek terug is werk en toe die Tiener vier maande oud was. Toe raak ek darem bietjie meer beholpe.

Die Laatlam se geboorte en alles daarná was anders.  Die pyn van die keiser was aansienlik minder en ek het van die begin af besluit om te bottel-voed.  Ek was net ‘n dag later as die ander mammas ontslaan want my hande se palms het geel begin raak en hulle wou my nog ‘n aand daar hou vir observasie.  En toe ek al daai leë hospital wiegies so sien in die gange, tóé kry ek “baby-blues” en tjank.  Toe my man my die volgende dag kom haal en ek sien ‘n bedelaar-kind by die “robot”, toe tjank ek.  Toe ek my hond sien, toe tjank ek.  Toe ek sien daar is nie melk in die yskas nie, toe tjank ek.  Ek was erg emosioneel vir ‘n dag of drie maar ek kon “cope”.

Nou begin van ons vriende eers babas kry en ek sien baie mammas by die kleuterskool wat hul eersgeborenes na die baba-klassie bring en ek is vrek-nuuskierig.  Dan vra ek hulle oor die bevalling en alles daarná want ek hoop iemand het, nés ek hierdie vreeslike pyn gehad en alles het net skeefgeloop.  Maar neeeeee!  Of die baba het uitgegly, óf dit was van die staanspoor af ‘n beplande keiser.

Dan vra ek hulle oor die borsvoed-winde-en-slaap-kwessie:  “Ôg, sussie is so soet.  Ek borsvoed haar en dan lê ek haar net neer.  Soms moet ek haar wakker maak om te voed”.  Of “Hy skree net as hy ‘n vuil doek het.”  Baby-blues:  “Wat is dit?  Nee man ons straal van happiness… Jy sien mos”  Dan wil ek slange vang want dit voel asof ek die enigste ma is wat álles agterstevoor gevang het met my eersteling. Wat hierdie jong mammas rook weet ek nie.  Hulle lyk so mooi op die kiekies wat in die teater geneem word net ná die baba gebore is.  Die borsvoeding loop vanaf die begin af seepglad.  Hulle ken van winde uitvryf en sweef op ‘n wolk van “glorious bliss” en dit vat sommer die piss uit my uit.

Ek wil net ééndag ‘n nuwe mamma by die kleuterskool se hek voorkeer en haar vra hoe dit gaan, en dan moet sy op-crack en vir my sê:  “Dit is kak!  Ek kan nie!  Hoe gaan ek hierdie kind groot kry?  Ek weet nie wat ek doen nie… Kyk hoe lyk my tiete van die melkkoors”  En dan wil ek haar ‘n drukkie gee en vir haar gaan kuier en die babatjie net vir so uur of twee vat sodat sy kan rus.

Maar nee, die hele spul word heel waarskynlik Prozak ingejaag saam met die “Pre-natal vitamins” sonder dat hulle dit weet…  Hoe kry hulle dit reg?

Vel-tot-vel

 

d61d7d8b707f1ba56564b2af78701dfe

Ná my tweede egskeiding in 2009 het ek ‘n berader gaan sien.  Die egskeiding was nie my enigste probleem nie.  Híérdie antie het meer “issues” as die Huisgenoot, hoor!

Ek het toe ‘n hipnose-sessie ondergaan en ons het sovêr teruggegaan na die bevrugting – toe “yours truly” nou gemaak is, jy weet.   Daar is toe gevind dat ek in die eerste plek nie eers in hierdie wêreld wóú wees nie.  Jy weet, dis bietjie eienaardig.  Ek weet nie of ek werklik glo in díé tipe dinge nie, maar aan die ander kant maak dit sin.  Was ek ‘n sperm of ‘n eiersel?  Of die een helfde “ek” (die sperm) en die ander helfde “myself” (die eiersel) en toe die sperm die eier bevrug toe is ek, “ekmyself”??  En as ek ‘n sperm was, en ek wou nou nie rêrig bestaan het nie, waarom het ek dan geswem dat die kak wit sit? (Want ons almal is mos “wenners” , huh-huh!)  En as ek nou die eiersel was, waarom het ek nie net vir die spermsel gesê:  “Fokoff, vis”! nie?

Toe die berader my vra hoe ek gevoel het toe ek die wêreld ingekom het, én daarna, het ek geantwoord:  “Alleen, koud, verwerp en bang”.  Ek het lánk ná geboorte so gevoel.  My ma wil nie eintlik daaroor praat nie hoewel ek ‘n groot begeerte het om te weet wat in my vroegste kinderjare gebeur het – want iéts het skeefgeloop.  Ál wat my ma my tot dusver nog vertel het, was dat my geboorte baie traumaties was, dat sy baie bloed verloor het en dat sy baie siek was ná die bevalling.  “Ek het by die dood omgedraai” – soos baie ma’s op ons gevoelens speel…  Soos ou Worsie se temerige ma:  “Jy weet nie waardeur ek was om jou in die wêreld te bring nie… snik…”  Nee wat my ma hou dit darem nie teen my nie, maar ek hou dit teen die Tiener (ek het GEKAK toe sy besluit om te kom!)

Terug by my geboorte.  Ék, aan die ander kant, was spekvet en gesond maar blykbaar kon sy my eers ‘n paar dae ná die bevalling sien en (seker maar) vashou.  Volgens geleerdes is die oomblik reg ná geboorte die belangrikste tyd vir moeder en baba om te “bond”.  Vier uit tien gevalle waar geboorte gegee word, word die reg die ma ontneem om dadelik haar baba op haar bors neer te lê en my persoonlike opinie is dat dit lekker kak kan veroorsaak vorentoe.  Soms ís  daar mediese redes waarom hierdie “bonding” proses nie onmiddelik kan plaasvind nie, maar hoe gouer dit kan gebeur, hoe beter vir die baba.

My ma sal dit tot die dood nie erken nie, maar ek voel dat ons nie regtig ‘n gesonde ma-dogter verhouding het nie (nie op hierdie spesifieke oomblik nie, anyway…) en ek is oortuig dat dit voorspruit van die oomblik dat ek gebore is.  O, moenie ‘n fout maak nie.  Baie dinge het vorentoe skeefgeloop en ek verkwalik my ma vir baie maar ek werk hard daaraan om vrede te maak daarmee want vir ‘n fok gaan ek nie ‘n “victim” sindroom ontwikkel nie (ek dink ek het alreeds, tot ‘n mate – pateties!).  Ek was ook maar ‘n ou “loser” van ‘n tiener.  Maar dalk kon dinge baie anders gewees het as hulle my net ‘n rukkie op haar bors neergelê het.  Daar is hordes artikels al hieroor geskryf en vir die afgelope sewe jaar is ek gereeld by my sielkundige om te probeer uitpluis hóékom my en my ma se verhouding so gekompliseerd is en hoe ek dit moet benader.

As jy as kind verwerp voel, is die kanse baie goed dat jy ook nie gaan weet hoe om liefde vir jou eie kinders te wys nie, en dít is my grootste, grootste vrees.  Dat my dogters eendag, in hul dertigs kwaad vir die lewe gaan wees en my gaan blameer omdat ek ‘n paar skroewe êrens in ‘n Vereeniging se kraamsal verloor het toe ek gebore is.  Want, feite, my ma het weer persoonlike wrokke teen my ouma en oupa.  Waarom my oupa so hard en liefdeloos teenoor haar was, weet ek nie.  Ek dink dit was maar ‘n manne-ding in daardie tyd.  Maar my ouma het die kakste kinderlewe denkbaar gehad en ek glo dat dít haar verhouding met my ma as kind versuur het.

Wie sou nou kon dink dat die gebrek van ‘n eenvoudige vel-tot-vel aanraking só groot impak op mens se volwasse lewe kan hê?