Tjank-gat

Die wêreld se grootste tjank-gat bly onder my dak!

Die Laatlam huil deesdae oor álles.  As sy my vang skelm tjoklits eet, dan tjank sy.  As ek vir haar die verkeerde swembroek inpak vir haar swemlesse, dan tjank sy.  As die kakpapier opraak terwyl sy putty-stoot, dan tjank sy.  As sy dors is, dan tjank sy.  As haar hande taai is, dan tjank sy.  As die hond haar per ongeluk omstamp, dan tjank sy.  As haar oë oopgaan, dan tjank sy.  Die geraas is besig om my teen die mure uit te dryf…

Die afgelope twee weke gaan ek deur moerse uitdagings en dit frustreer my grensloos.  Baie van ons besigheid gaan deur staatsinstansies en hulle het nou die wonder van elektronika ontdek.  Alles moet moet ge-“submit” word op hulle webtuistes.  Dan is dit “tax clearance certificates”, besigheids-registasie vorms (wat hulle laat kop-krap want die maatskappy is al in 1969 gestig so die oorspronklike vorm lyk soos iets uit ‘n museum), gesertifiseerde bankstate, FIKA en al daai kak waarvoor ek nie tyd het nie.  Die dag toe ek Pastel onder die knieg gekry het en internet betalings kon maak in pleks van hordes tjeks en bankstrokies uitskryf, het ek besluit om te stagneer want ek het nie gedink dat tegnologie verder sou “evolve” nie.   Nou moet mens oral registreer en hordes dokumente laat beëedig, “scan” en “sub-fokken-mit”.  Kyk, en as daai dônnerse sisteem my uitgooi of om my sonder enige rede “reject” dan wil ek my lessenaar omgooi!  En NIEMAND kan my help nie want die hele spul wat sáám met my werk het óók besluit hulle stagneer so ek sit in kakstraat.  En ek kry NIKS uitgerig nie!  Dit is blerrie irriterend!

Ek sit ook met ‘n lelike ding met ons munisipaliteit en ek sukkel al van April af om dit uit te sorteer.  Hulle het derduisende rande ge-“over-charge” op ‘n rekening.  Ek moes dit noodgedwonge betaal.  Hulle het erken dit was ‘n fout van hulle kan af (ene Tifo, die drol!) maar reguit gesê dat hulle nie weet hoe om dit uit te sorteer nie.  Met ander woorde, ek verwag om vir die volgende twee jaar ‘n nul-rekening te kry, maar dit is nie die geval nie…  Niks word reggestel nie.

Verder gaan die lewe aan by die huis en ek moet taxi speel laat die kak wit sit!  Ek ry myself des-moers.  Verál vir die Tiener en haar maats.  My etensuur word opsy gesit om rond te ry.  Ek is móég.  Moeg vir die Laatlam wat tjank.  Moeg vir die Tiener wat rondgery moet word.  Moeg vir my werk.  Moeg, moeg, moeg!

Maandag-oggend toe gaan stap ek en skielik begin ek tjank.  Ek het Maart-maand (wat ek van kan onthou) laas gehuil.  Anti-depressante het soms ‘n lelike manier om mens emosioneel “dood” te maak, so ek huil bitter min.

Later die oggend sit ek en hare droogblaas, midde-in die chaos in ons huis (met die Laatlam wat êrens in die huis loop en tjank).  En skielik begin ek wéér tjank.  Die Laatlam kom die kamer in gesuiker en sy sien haar ma is aan te-huil.  Dadelik hou sy op en troos my.  Tjoep-stil…

By die werk gekom.  Toe tjank ek WEER (maar kyk, TOE is die krane oop!).  My ma (vir wie ek werk) troos my en bel die mister.  ‘n Uur daarná kom die Mister by my werk aan.  Teen daardie tyd toe lyk my oë al soos muishond-poessies-ná-paartyd van al die gehuil.  Hy en my stiefpa gryp toe in,  maak ‘n paar oproepe en begin toe goed “submit” wat ek vir ‘n dônner nie ge-“submit” kry nie.  My kollegas skarrel rond en maak afskrifte van dokumente en skandeer dit om die lewe vir my makliker te maak.

Later die middag toe gaan haal ek die Tiener by die skool om haar na haar ekstra Wiskunde klasse te vat.  Daar gekom, toe begin ek huil toe die onderwyseres met my kom gesels.  Láter die middag begin twee ander mammas (wie se kinders óók by dieselfde plek ekstra klasse kry) my Whatsapp.  Hulle bied aan om uit te help met die rond-geryery.

Terug by die werk, toe kom ons bode om vir my die munisipale rekeninge te bring.  Ek het daai papiere net so een kyk gegee toe tjank ek weer.  En ou Alice troos net…  Die volgende dag toe kom sy na my toe met die nuus dat sy die munisipaliteit se finansiële bestuurder (NOGAL!!!) gaan sien het en dat Tifo knie-diep in die kak is.  Sy het ‘n afspraak met hom (die finansiële bestuurder) gemaak vir vanmiddag en hy het belowe dat die kwessie met die rekening vandag uitgesorteer sal word.

Later die aand toe kyk ek “Happy Feet” saam met die Laatlam.  Toe tjank ek weer… vir oulaas…  daai pikkewyntjie se hartseer blou ogies…

 

Uit met die tissues!

128546690837.jpg

Geraas!

Die Tiener en die Laatlam het onlangs begin met hul bakleiery.  Dit is absolute chaos in ons huis.  Verbeel jou:  Die radio in die kombuis is aan (vir my), die Tiener kyk “Trace” in die TV kamer, en die radio in die onthaal-area is aan vir die Mister.  Intussen loop die Laatlam die hele plek vol en kak almal uit.  Soos ‘n hoender.  Hap-en-kak-hap-en-kak…

Die Laatlam is haar pa se “blue print”.  Donker hare.  Donker oë wat swart soos ‘n demoon s’n raak as sy haar gat wip.  Die neus, die wenkbroue, die mond… Maar sy het haar ma se temperament gekry.  Ons wil hê wat ons wil hê en ons wild it NOU hê!  Ek is ‘n “borderline” beroerte-geval.  Dié dat ek medikasie moet gebruik en vir “anger-management” klasse was.  Ek moet sê, ek hanteer my woede baie beter as byvoorbeeld ‘n jaar terug.  Mense begin my nou weer te “like”.

Die Tiener is twaalf jaar ouer as die Laatlam, so ek kan verstaan dat die tweetjies nie “eye to eye see” nie.  Die Tiener probeer haar bes om die volwasse ding te doen en haar sussie te ignoreer, maar soms vat die Laatlam dit te vêr.  Soos ‘n hyena wat aan ‘n leeu se balhare torring.  Dan kry ons nou ‘n “cat fight” wat skrik vir niks.  Die lawaai is besig om my te vang…  Ek het nou die aand sommer in my kar in die motorhuis gaan sit net vir bietjie stilte.

My sussie is agt jaar jonger as ek en ons het nét so baklei.  Ongelukkig het ons nie baie lig daarvan afgekom nie.  Eendag het my Stiefpa ons met ‘n tou vasgegmaak en vir ons elkeen ‘n paplepel geggee en ons beveel om mekaar te moer.  En die een wat nié die ander ene slaan nie, kry pak met die belt van my stiefpa af.  “Toe!  Bliksem mekaar nou!”  en dan klim hy ook tussen ons in.  Ek het die rook daardie dag uit my sussie geslaan want vir dáái belt was ek skeit-bang! In elke geval, my sussie het nooit pak gekry nie en toe daai geleentheid in mý skoot val toe gryp ek hom aan met albei hande!

Een Desember vakansie in Blouberg toe sit ons wéér so vas.  My ma en Stiefpa het ons eenvoudig daardie oggend in die woonstel toegesluit en vir die res van die dag gaan gat-skuur.  Dit was so frustrerend want ons was basies gedwing om in mekaar se gevrete vas te kyk vir een hele dag.  Ek onthou ek het nog op die balkon gaan staan en rook en my sussie het op my afgekom.  “As jy vir ma-hulle sê dat ek rook, dan dônner ek jou!”  Daardie aand toe my ouers by die woonstel kom, was die eerste ding wat sy vir my stiefpa gesê het:  “Pappa, ek BELOWE my sussie rook nie!”   Go figure!

Vandag is my sussie my beste vriendin maar sy bly in die Kaap.  Ons sien mekaar een maal per jaar.  Ek wens so ek het haar meer gekoester toe sy ‘n klein dogtertjie was en meer moeite gedoen om haar ‘n deel te maak van my lewe.

My een kollega reken my situasie is nog mak teenoor wat sý deurmaak.  Sy het twee tienerseuns in die huis.  As húlle aan die baklei gaan, dan loop die bloed.  Dan staan sy net daar en huil terwyl hulle op die mat rondrol en mekaar met die vuiste bykom…

Ek weet nie… dalk moet ons die twee in ‘n kamer toesluit of iets.  Ek het nie die hart om te doen wat my stiefpa gedoen het nie.

c7aa15734ab5323ad7448f0b651e4949.jpg

My ou glipsies…

Die Laatlam is vandag vier jaar oud!

Ek kan soms nie glo dat ek ‘n ma is nie.  Hoe op aande het ek tot hier gekom?  Ek was twintig toe ‘n ginekoloog my meegedeel het dat ek nie eendag normaal swanger sou kon raak nie.  Dit het my min ge-“spin” want kinders was glad nie deel van my toekomsplanne nie.  Om te tróú was nie eers deel van my toekomsplanne nie.  Ek wou ‘n snyerspakkie, spykerhakke, aktetas en “Air-miles” tipe “girl” gewees het.  Mense wat gekies het om te trou en kinders te hê was vir my altyd half fucked-up’erig.  Kinders het my die rittel-tits gegee en geen moedersinstink in my wakker gemaak nie.  As ek gaste genooi het en hulle kom met hul kinders by my woonstel aan, dan wou ek ‘n aap skeit!  Ek het kinders vermy sovêr as wat ek kon.

‘n Vriendin het selfs eenkeer vir my gesê dat ek eerder nie moet kinders kry nie want sy kon “aanvoel” hoe ongemaklik hulle my maak.  Ek weet nie.  Dalk het ek net nie geglo dat ek dit ooit in my sou hê om vir iemand anders te sorg en lief te wees nie.  Liefde is mos maar ‘n snaakse ding.  Jy moet liefde ken om liefde te kan gee.

En BOOM!  Toe raak ek swanger met die Tiener.  Met ‘n man vir wie ek eintlik niks gevoel het nie.  Die oomblik toe ek uitvind ek is swanger, toe los ek die sigarette, drank en Thinz.  En eendag, in my nugtere toestand, toe kyk ek hom so en dink:  “Fok… ek kan nie ‘n pad saam met hierdie otter stap nie…” Ek het hom gelos toe ek drie maande swanger was.

Met die Tiener se geboorte was die dokter se eerste woorde aan my:  “Geluk.  Waardeer haar, want sy mag dalk net jou enigste wees.” Aanvanklik was die klein bondeltjie vir my ‘n vreemdheid en nageboorte-depressie het dit nie makliker gemaak nie.  Mettertyd toe besef ek dat ek nie sonder die kind kan lewe nie.  Kakdoeke-kotsies-trane-en-al.  Ek was (is) lief vir haar.

Met my eerste én tweede huwelik het ek vergeefs probeer swanger raak.  Self vir ‘n laporoskopie gegaan en probeer deel met die enometriose.  Een van die redes wat my tweede man aangevoer het toe hy gevra het vir ‘n egskeiding, was dat ek nie vir hom kinders kon baar nie.  Pleks hy maar net eerlik gewees het en gesê het:  “Ek is ‘n orige dik-gat manhoer wat van kwas hou…” dan het die hele ding my nie so gevang nie.

Toe ek en die Mister begin uitgaan het, het ek hom van die begin af gesê dat ek nie nog kinders kan kry nie.  Ek het hom ook meegedeel dat ek nie belangstel om ooit weer te trou nie.  Dis net ‘n stuk papier.  Kyk byvoorbeeld nou die kak met Brad en Angie.  Járe lank gelukkig in sonde saamgeleef, maar toe hulle dit offisieël maak, toe is die gort gaar!

Ná ‘n jaar en ‘n half se sorgvrye jollery, toe slat dit my soos ‘n tampon.  Ek is swanger.  Weereens los ek die drank en sigarette en vergryp my aan wit Kit-Kats, maar my gevoel vir die Mister het dank-de-Vader dieselfde gebly want ek was nie lus om weer ‘n kind op my eentjie groot te maak nie.  ‘n Week vóór die Laatlam se geboorte het ons verloof geraak en ons is ses maande daarná getroud.  En ek kyk vandag terug met dankbaarheid.  Ek kán nie sonder my twee meisiekinders nie.  Ek kán nie sonder my man nie.  Hoewel die depressie soms die oorhand kry en ek in my kar wil klim met ‘n slaapsak en na my koue kantoor wil vlug, kan ek my nie ‘n lewe sonder hulle voorstel nie.

Nou is ons pensioen-opfokkertjie vier jaar oud.  Dinge het nie uitgewerk soos ek dit beplan het nie.  Dit het béter uitgewerk…

43ed3c9a70d27b93d9537292d172d25f.jpg